Local newsNews

Laaste bederf vir 2015

Dit was 'n baie suksesvolle dag by die Springs Rugbyklub waar minder bevoorregte families boereworsrolle ontvang het.

Elke kind het ook ‘n lekkergoed pak met ‘n roomys en ‘n kolwyntjie ontvang.

Sanette Joubert, Daleen Joubert en Robert Hawley het hulle goed van hulle taak gekwyt om orde te handhaaf.

Terwyl sommige van die kinders baljaar het op die springkastele, het ander in ‘n ry gestaan sodat hul gesigte geverf kon word.

“Dit was te kostelik om te sien hoe ‘n Spiderman of blommetjie prentjie die kinders se gesigte opgehelder het,” sê Robert.

Die organiseerders het beplan om vir 500 mense boereworsrolle te gee, maar het vinnig besef daar is baie meer as 500 mense.

Dit sou nooit genoeg gewees het om aan almal te voorsien nie, en hulle moes plan maak om nog wors en broodrolle te gaan koop.

“Ons wou almal kos gee wat daar was en ons het,” sê Sanette

Robert het 500 stukke boerewors en broodrolletjies geskenk en gelukkig het ‘n onbekende persoon tot hul redding gekom deur nog 150 stukke boerewors en 150 broodrolle te gaan koop.

Iemand wat Daleen gereeld ondersteun met spookasem tydens hul kosgee dae in Butler Park in Geduld, het weer hul hande uitgesteek na hul naaste en gehelp met ekstra spookasem.

“Ons is so dankbaar teenoor almal wat hierdie dag moontlik gemaak het,” sê Sanette.

Pastoor Kobus Blomerus van die Global Family Church, se gemeentelede het 400 lekkergoed pakke opgemaak en 20 pakke stokkie roomysse geskenk.

Daleen sê hulle het vir omtrent 650 mense kos gegee, nadat hulle van die boereworsrolle vir die kleiner kinders moes halveer.

“Dit het later gelyk of die kleiner kinders se oë wou toeval nadat hul magies vol was,” sê Sanette.

Vanaf 10 uur tot twee uur, het baie mense ingespring om te help en daarvoor is Sanette en Daleen baie dankbaar.

Elke drukkie van ‘n kind en dankie van ‘n ouer maak dit wat hierdie twee vrouens doen die moeite werd.

“Aan elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het, wil ons baie dankie sê,” sê Daleen.

Related Articles

Back to top button