Local newsNews

Goue Jare Lentedans ’n sukses

’n Goue Jare Lentedans is Saterdag by die Malan Nel Sentrum in Springs gehou.

’n Bekende besigheid in Springs, wat reeds jare betrokke is by gemeenskapsprojekte, het hierdie jolige geleentheid aangebied na hulle ’n versoek ontvang het van ’n inwoner dat die bejaardes ’n behoefte het aan ’n gesellige dans.

Die besigheid het selfs ’n advertensie by ’n plaaslike gemeenskapsradiostasie geplaas en die publiek uitgenooi na die Goue Jare Lentedans.

Die eerste 80 pare kon aansluit by dié dans.

Henry Ludick, verkoopsbestuurder van die besigheid, vertel dat hulle uit hulle pad gegaan het, vir geen wins, om dié affêre ’n prettige een te maak vir almal.

“Ons het baie borge gekry van verskillende plekke om die dans ’n sukses te maak, ’n plaaslike mark het so baie vars groente geskenk dat ons van dit verpak het in pakkies en uitgedeel het aan ouetehuise,” sê Henry.

Twee plaaslike orkeste, Boys van die Suburb en Silversnare, asook ’n sangeres, Madelein ‘Madz’ Smith, het die skare vermaak.

“Almal wat die dans bygewoon het was die hele dag vermaak met allerhande aktiwiteite soos ’n foto hoekie waar hulle kostuums kon aantrek en foto’s neem wat ons dan vir hulle gedruk het,” verduidelik Henry.

Elsa Jacobs, eienaar van die besigheid, en haar span het om en by 40 koeke en 100 kolwyntjies vir die geleentheid gereël.

Henry voeg by dat Elsa alles uit haar eie sak betaal het.

Pryse is tydens die aand uitgedeel en die bejaardes het gewys dat hul steeds die askoek kan slaan.

Related Articles

Back to top button