Local newsNews

Groot pret by Fonteine Fees

Die Hervormde Kerk Springs-Oos se jaarlikse Fonteine Fees was weereens ’n groot sukses.

Dit is moeilik om te bepaal wie die fees die meeste geniet het, die jong klomp of die ouer garde, want daar was talle interessante vermaak vir oud en jonk.

Vir die jonger geslag was daar ’n treinrit, go-karts en elektroniese swaaie om te geniet asook helikopter ritte en ’n skattejag om almal te vermaak.

Om sy kussingvegkuns te bemeester het Ethan Anderson (13), sy vriend, Christo Erasmus (12), laat les opsê tot groot vermaak van die toeskouers.

Die ouer garde kon kies en keur tussen al die stalletjies met heerlike eetgoed en vir die snuffelkouse was daar meer as genoeg vlooimark stalletjies ook.

Tydens die ‘colour run’ het die meeste van die deelnemers wit T-hemde gedra en mekaar met sakkies gekleurde poeier getakel.

Chrisjan du Preez (13) was van kop tot tone vol verf, maar vertel met opgewondenheid hoe hy dit geniet het.

Vrydagaand het Elvis se Seun oftewel, Stefan Ludick, opgetree in die groot wit marquise tent, terwyl Saterdag se feestelikhede nie te versmaai was nie.

Met ’n vol program het die skole uur groot belangstelling gelok. Skole het die geleentheid gehad om op te tree, hetsy met gedeeltes van hul revue, te sing of selfs musiekgroepe wat hul staal gewys het.

Rembrandt van Rijn se duo Phillru von Achterberg en Pieter Erasmus het hulself gate uit geniet op die verhoog.

Met die Liewe Heksie produksie, was die kinders in vervoering toe Liewe Heksie en Mattewis die verhoog bestyg.

Die fees is afgesluit met die Afrikaanse sanggroep, Adam en almal was dit eens dat hulle uitsien na volgende jaar se fees.

Related Articles

Back to top button