Skole toneelspel by ATKV

ATKV-Tienertoneel bied vanjaar hul 51ste kompetisie aan tydens die Johannesburgse streeksfees wat vanaf 17 tot 22 Augustus by die Johannesburg Universiteitsteater gehou word.

ATKV woordvoerder Mercia Eksteen sê die vurige passie van tiener talent is genoeg om enige teater liefhebber te vermaak en te bekoor.

180 toneelgroepe van regoor Suid-Afrika en Namibië neem deel aan dié kompetisie waarin 19 toneelstukke, vanaf Maandag tot Vrydag, meeding om een van vier plekke in Saterdag se streeksfinaal.

Die opvoerings begin om 6nm elke aand en toegang is gratis.

Hoërskool Hugenote is een van die skole wat drie toneelstukke, Die BegraPnis, Die Vloed en Kaperjol, gaan opvoer.

Die toneelgroep staan onder leiding van regisseur Kobus Smal, verhoogbestuurder Tahne de Oliveira, met Pieter Oberholster wat die beligting behartig en Wayne van der Schyff wat die klank beman.

Die beoordeelaarspan van Pedro Kruger en Cintaine Schutte sal die toneelstukke deur die loop van die week beoordeel terwyl Ira Blanckenberg en Hennie van Greunen Saterdagaand sal aansluit as gasbeoordelaars.

Die tien finaliste, wat in die Tienertoneel finaal sal meeding tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees vanaf 6 tot 10 Oktober, sal na afloop van al die tien streeksfeeste in die eerste week van September aangekondig word.

Gróót name soos Anél Alexander, Anton Treurnich, Christo Davids, Francois Toerien, Jacques Bessenger, Jak de Priester, Patrick Shabangu, Pedro Kruger, Roeline Daneel en Viljé Maritz het hul talente geslyp op die ATKV-Tienertoneelverhoog.

Exit mobile version