Local newsNews

Douw se dood ‘n skok

Douw Potgieter (16), 'n Graad 10 leerling aan Hoërskool Hugenote, is Maandagaand oorlede nadat hy deur ’n elektriese stroom geskok is.

Die oorsaak van die ongeluk, wat by sy vakansie werksplek in Geduld plaasgevind het, is nog onduidelik. Douw het gretig die vakansie werksgeleentheid aangegryp om sakgeld te verdien.

Douw se familie is in rep en roer na sy skielike tyding en alhoewel hulle baie hartseer is, weet sy familie dat hy by die Here is.

Elsie Potgieter (47), Douw se ma, vertel met ’n hartseer glimlag dat hy ’n “amazing” kind was wat ’n vol lewe gelei het. Douw het altyd sy naaste met die grootste respek behandel en gestaan vir dit waarin hy glo.

Nadat Elsie die nuus van die ongeluk ontvang het, het sy haar na die toneel gehaas. “Ek het geweet my kind is dood toe ek hom sien, maar is geweldig dankbaar vir die gevorderde lewensondersteuning paramedici wat na ’n uur se probeer, nie moed opgegee het nie,” sê Elsie.

Elsie sê Douw was die geestelike leier van hul gehegte gesin en dat hy met aandsgodsdiens altyd uit die Bybel gelees en vir almal gebid het.

Sy oupa, Douw van Niekerk (71), sê die twee van hulle kon altyd gesels en dit is wat hy die meeste gaan mis. “Douw het nooit geskroom om my te help as ek hom iets vra nie,” sê hy.

Ouma Cillie van Niekerk (67) sal sy grappies die meeste mis. Sy onthou hoe hy altyd vir haar gesê het ‘Ma-Oum’ en dan het sy geantwoord met ‘Ma-Douw’.

Douw se suster, Suné van Rooyen (14), vertel met ’n glimlag van sy positiwiteit en met ’n traan in die oog hoe hy haar altyd gemotiveer het. “Douw het altyd ’n negatiewe situasie omgeswaai in iets positiefs,” sê sy.

Sy broer, Victor Potgieter (18), vertel dat Douw ‘n baie sterk persoonlikheid gehad het en dat groepsdruk hom nie beïnvloed het nie. “Douw het altyd gestaan vir dit waarin hy geglo het en niks sou hom van plan laat verander nie,” sê Victor.

Douw was Laerskool Jan Van Riebeeck se hoofseun in 2012 en ’n briljante leerling wat altyd die akademiese top 10 behaal het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button