Vrou staan derde kind af aan dood

Na die dood van haar man en twee seuns, moes ’n Casseldale vrou haar dogter ook aan die dood afstaan.

Rika Smith (54) se dogter is Donderdagoggend na ’n siekbed van vier dae oorlede in die Verre Oos Rand Hospitaal. Annetjie se laaste woorde aan haar ma was, “Ek het baie seer, ek is lief vir ma”.

Rika is ‘n pensioenaris en sorg nou vir Annetjie se seun, Henrico (16).

Annetjie Smith (37), Rika se dogter, het gesukkel om asem te haal en pyne in haar bors gevoel toe sy Sondagoggend na die Verre Oos Rand Hospitaal oorgeplaas was. Annetjie is later in die middag in ’n saal geplaas.

Rika sê sy het probeer uitvind wat fout is met haar dogter, maar dat sy alle inligting geweier was en nie kon uitvind wat haar dogter makeer nie.

“Ek het nie geweet wat fout was met my dogter nie en ek was vreesbevange dat sy gaan sterf.”

Sy vertel dat sy nie kan verstaan hoekom hulle geen inligting met haar wou deel nie.

“Ek kon eers die dokter sien na haar dood, hy sê haar longe het ingegee. Ek het drie kinders gehad, nou is almal oorlede.”

“Die paar keer wat ek toegelaat was om haar te sien het sy my vertel hoe sy geen hulp kry nie en dat sy self alles moes doen.” Volgens Rika het sy en Annetjie se verloofde haar dogter snikkend na asem op ’n plat bed gevind.

“Sy kon skaars asem haal, haar hele lyf was blou en sy het snaakse geluide gemaak. Ek en haar verloofde, Phillip Dewald (29) het die bed regop gesit en haar rug gevryf sodat sy beter kon asemhaal.”

Rika het toe die verpleeg personeel gevra om vir haar dogter suurstof te bring.

“Sy kon nie sonder die suurstof nie,” sê Rika. Annetjie het vir haar ma vertel hoe sy gesukkel het om die suurstof later self af te haal toe sy die badkamer wou besoek.

“Sy het blykbaar geval en moes self terug na haar bed kruip en sukkel om op te klim,” het Rika emotioneel verduidelik.

Volgens Hendrik Buda, woordvoerder van die Verre Oos Rand Hospitaal, het hy persoonlik, na die ontvangs van die klagte, met die pasiënt gepraat en sê dat sy ontken het dat sy geval het.

“Die dokter het ons vertel dat die pasiënt volle mediese behandeling ontvang vir haar kwale,” sê Buda.

Hy sê ook dat die verpleeg personeel slegs toegelaat word om pasiënte se toestand bekend te maak, indien die pasiënt ‘n minderjarige is. Slegs dokters het die gesag om ’n volwasse pasiënt se toestand bekend te maak aan naasbestaandes.

Buda noem ook dat die dokter en matrone laas Donderdag in detail met die pasiënt se ma gepraat en verduidelik het watter behandeling haar dogter ontvang het.

“Ons was ingelig dat die pasiënt se toestand skielik verswak het en dat sy vroeg Donderdagoggend oorlede is, ons wil graag ons innige meegevoel oordra aan die familie vir die verlies van hulle geliefde,” sluit Buda af.

Connect with us:

Have a story? Send Izahn van Huyssteen an email on izahnv@caxton.co.za or contact her on 011 812 4828.

Like our Facebook page and follow us on Twitter as well as our journalists @SpringsJournOne and @SpringsJournTwo.

For news straight to your phone, invite us on BBM – 7EFABEF1.

Exit mobile version