Local newsNews

Wees kreatief met hout

Skrynwerk is nie net 'n beroep nie, maar 'n kreatiewe passie.

So sê Willie Geyser (60) wat al vir 43 jaar in die skrynwerk bedryf is.

“Daar is twee soorte ambagte in die houtwerk bedryf,” verduidelik Willie. “Hulle is ‘n timmerman en ‘n skrynwerker.”

‘n Timmerman se werk behels die bou van dakke en plafonne van huise, terwyl ‘n skrynwerker al die afwerking binne huise doen.

“Al die ingeboude kaste, soos kombuiskaste, slaapkamerkaste en alle houtwerk binne ‘n huis, word deur ‘n skrynwerker gedoen,” sê Willie.

“Mens moet ‘n absolute passie hê vir houtwerk en baie handvaardig wees.”

Willie vertel dat skrynwerk baie kreatiewe aspekte het, omdat ‘n klient sal verduidelik wat en waar hy iets soek en die skrynwerker moet dan die planne teken en beplan hoe dit gaan lyk.

Akkuraatheid en konsentrasie is ook ‘n moét vir hierdie werk.

“Meet drie keer voor jy sny,” sê Willie.

Om in die beroep te wees, is dit belangrik om ingenieurs grafika en ontwerp (IGO) en siviele tegnologie as vakke op skool te neem.

“Dit is die mooiste en lekkerste vakke om te hê,” sê Willie.

Hy het houtwerk vir 26 jaar by Springs Hoër Tegniese Skool (HTS) aangebied en vir vyf jaar by die Hoërskool Hugenote.

“Om ‘n ambag in skrynwerk te bekom moet ‘n mens aansoek doen by ‘n maatskappy wat die werk doen, en ‘n bietjie ervaring opdoen, daarna stuur hulle hom na ‘n tegniese kollege, waar ‘n kursus geloop word en dan ‘n praktiese toets afgelê word, voor hulle die rooi seël ontvang.”

In Willie se opinie, is dit een van die mooiste ambagte wat ‘n mens kry.

“Hoe meer jy insit en hoe meer ondervinding jy opdoen, hoe vinniger sal jy jou ambag kry,” sê hy.

Hy vertel dat die tevredenheid met jou eie take een van die beste dele van dié werk is.

“As jy klaar gewerk het, staan jy terug en sien wat jou eie hande geskep het.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button