Local newsNews

Poppiehuis moet toemaak

Die huis wat hulle huur is in die mark.

Poppiehuis, ‘n plek van veiligheid vir kinders wat noodversorging nodig het, sal heel moontlik moet toemaak.

Eienaar van Poppiehuis Koks du Toit sê hulle huurhuis in Vierde Straat is in die mark en hulle het net nie die geld om ‘n nuwe huis aan te skaf nie.

Sy is al vir 15 jaar in hierdie huis waar sy tans aan ses kinders ‘n plek van veiligheid gee, asook ‘n ma en haar vier kinders versorg.

Die kinders wat na haar toe kom word deur die polisie, hof, Hi5 Kids en die Wild Wild Guardians by haar geplaas tot ander reëlings oor die kinders se toekoms getref kan word.

Sy sê hulle het al na plekke by Grootvaly gaan kyk, wat ideaal sal wees want die grootte van die huis wat sy kan kry sal bepaal hoeveel kinders sy kan huisves.

As sy en haar man Riaan in ‘n kleiner plek moet intrek sal sy vir baie minder kinders ‘n plek van veiligheid kan gee.

‘n Groot plek kan haar droom om ‘n kinderhuis te begin realiseer.

“Ek sal dan kan registreer as ‘n kinderhuis, waar ek op die oomblik net ‘n plek van veiligheid aan kinders kan verskaf,” sê Koks.

Sy dink nie aan moed opgee nie, want sy voel om met kinders in nood te werk is ‘n passie wat die Here vir haar gegee het en sy voel sy kan dit nie net los nie.

Henry Harber van die Wild Wild Guardians sê as Poppiehuis moet toemaak sal dit baie sleg vir Springs wees, want dan sal hulle as ‘n organisasie nêrens ‘n plek kan kry waar hulle vir kinders tydelike huisvesting kan gee nie.

 

Related Articles

Back to top button