Local newsNews

Twee vrouens help die mense van Geduld

'Ons help uit die liefde van ons harte', sê hulle.

Sanet Joubert van Negende Laan in Geduld se stoep is die plek waar alles gebeur.
Dit is waar sy kinders help met hulle huiswerk na skool en waar sy beplan hoe sy die mense van Geduld kan bedien.
Sanet se liefde vir kinders maak dat sy elke jaar weer van voor begin om hulle te help om hul huiswerk te doen.
Sy doen dit al vir 33 jaar sonder betaling en elke keer wat sy wil aftree besluit sy om steeds aan te gaan.
Sy het al baie kinders deur die skool gehelp en kan met trots sê dat een van haar matriekulante die matriekeindeksamen van 2014 geslaag het.
Dit is op haar stoep waar talle harte uitgepraat word oor die swaarkry en seer van die mense en kinders van Geduld.
“As ek ‘n boek sou skryf, sal dit na die eerste week uitverkoop,” sê sy.
Sy help baie mense met kospakkies, wat sy danksy haar borge kry.
Die mense kom klop altyd aan haar deur as hulle iets nodig het en sy sal altyd ‘n plan maak om mense sovêr moontlik te help as daar regtig nood is.
“Daar is mense wat jy twee maal kan help, maar ander sal jy net eenmaal help want hulle sal alles gaan verkoop,” sê sy.
Sy sê die dwelmgebruik van ouers is ‘n groot rede waarom kinders in Geduld swaarkry.
Sanet het haar liefde vir die gemeenskap verlede jaar uitgebrei deur tydens Paastyd en Kerstyd etes vir die mense van Geduld te gee.
Hulle het elke keer ‘n groot samekoms in Butlerpark gehou met heerlike potjiekos, koeldrank, roomys en lekkers.
Dit is ook haar borge en die bydraes van goedhartige mense wat hierdie dae vir hulle moontlik maak.
Haar liefde om mense te help het begin tydens haar kinderjare omdat haar pa hul laaste sent vir iemand in nood sou gee.
Sy woon al haar jare in Geduld en sê jy kan die plek los, maar Geduld sal jou nie kan los nie.
Sy, sowel as haar ouma, ma en haar twee dogters, beide al uit die skool, was almal in dieselfde skole in die gebied.
Sanet vertel sy het reeds vandat haar dogters skool toe is begin om toebroodjies by een van die laerskole aan behoeftige kinders te gee.
Sy het dit uitgebrei deur ‘n behoorlike gekookte ete een maal per week vir 120 kinders by hierdie skool te voorsien.
Daleen Botha, wie ook in Geduld woon, is sedert verlede jaar ook deel van Sanet se span.
Haar passie is nie net kinders nie, maar ook ou mense.
Sy is nie vir een dag spyt dat sy saam met Sanet werk nie.
Daleen en haar vriende het onlangs ‘n breiklub begin waar hulle vir kinders brei.
Hulle het al 120 kindertruie gemaak.
Daleen vertel sy het al wonderlike dinge sien gebeur sedert sy saam met Sanet mense bedien, soos tydens Paastyd verlede jaar toe hulle vir 750 mense uit een pot kos gegee het.
Dit het begin in Butlerpark en eers nadat hulle by drie ander plekke was het die kos klaargeraak.
Beide vroue sê hulle geniet die drukkies, dankies en dankbare gesigte as hulle mense help.
Een voorbeeld is toe die twee en Sanet se man, Dickie, op Kersdag vir bejaardes kolwyntjies gaan uitdeel het.
“Ons doen dit uit die liefde van ons hart,” sê hulle.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button