Verna Vels het ‘n onvervangbare skat nagelaat

Verna Vels, bekende skepper van Liewe Heksie, is Donderdagaand (21 Augustus) op die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Volgens ‘n Springs inwoner en haar vriend Frans Swart, van Lefra Produksies, is sy sowat ‘n maand gelede met longkanker gediagnoseer.

Sy is stil in haar slaap by haar huis in Brixton oorlede.

‘n Bewoë Frans sê haar dood laat ‘n ongelooflike leemte in sy lewe aangesien hulle twee baie jare nou saamgewerk het.

Alhoewel sy in Junie 81 jaar oud geword het, het sy nog steeds twee keer per week as toesighoudende vervaardiger op die 7de Laan stel gaan werk.

Sy het die eerste Liewe Heksie-reeks in 1961 begin skryf en dit is in 1963 op die Afrikaanse Radiostasie uitgesaai.

Verlede jaar het Liewe Heksie haar 50ste verjaardag gevier terwyl Vels 80 jaar oud geword het.

Gedurende 1963 was die hoofkarakter van hierdie kinderprogram Blommie Kabouter, maar Heksie het so gewild geraak dat sy later die hoofkarakter geword het.

Vels was die eerste vrou wat as direkteur by die SAUK aangestel is.

Sy was in 1975, toe TV in Suid-Afrika begin het, in beheer van die joernaal en kinderprogramme.

Gedurende hierdie tyd was Frans die kameraman vir hierdie programme.

Hy sê sy het ‘n geweldige invloed op sy lewe gehad en hom baie raad gegee met die skryf van sy eerste boek, Blouvlam die Draak, sowel as die kinderprogram, Vuurhoutjieland, wat hy na dit geskryf het.

“Ons het drie TV-reekse van Liewe Heksie saam gemaak,” sê hy.

Vyf jaar gelede het Frans by haar toestemming gekry om Liewe Heksie verhoog toe te vat.

Die verwerking van haar werk in ‘n verhoogstuk is onder haar vaandel gedoen.

Vels het spesiaal die verhoogstuk Liewe Heksie en die Tuindwergie verwerk en later het Liewe Heksie en Botterblom gevolg.

Hierdie twee verhoogstukke is verwerk uit verskeie Liewe Heksie-stories.

Sy het ook onlangs die Liewe Heksie animasiereeks vir die internasionale mark, ‘n Hollywood Produksie, klaargemaak, wat nuut ge-animeer gaan word.

Frans sê hierdie wonderlike belese vrou en uitsaaier het verskeie groot radio omroepers opgelei.

Sy was ook baie lief vir reis en Frankryk was haar gunsteling land waarheen sy verskeie kere teruggekeer het.

Haar tydverdryf was om bekendes se grafte op te spoor.

Tydens haar wêreldreise het sy gereeld na nog ‘n liefde van haar, ligte opera optredes gaan kyk.

“Sy sal nooit vervang kan word nie, en sy het ‘n onvervangbare skat nagelaat,” sê Frans.

Hy sê dit is vir hom nogal swaar op die oomblik, want Liewe Heksie verskaf soveel plesier aan kinders en grootmense.

Ana van Achterbergh as Liewe Heksie en haar broer Philru van Achterbergh as Blommie Kabouter,
Liewe Heksie, die bekende kinderfiguur in talle huishoudings.
Exit mobile version