Local newsNews

Onderwys as beroepskeuse

Onderwys is meer as net onderrig

Om ‘n onderwyser wees moet jy geroep wees vir die taak.

Onderwyseres Corné Terblanche, van Laerskool Jan van Riebeeck, hou al skool vir 28 jaar en is nog nie een dag spyt oor haar beroepskeuse nie.

Sy sê jy moet geroepe wees vir dié taak en ‘n liefde hê vir kinders.

Die grondslagfase het nie noodwendig spesifieke vakke nodig nie, maar by hoërskoolonderwys is spesifieke vakke belangrik.

“Deesdae het skole studente wat die onderwysers assisteer tydens klas, wat buitemuurs studeer,” sê sy.

Corné sê hulle doen meer as net onderrig gee, dit het ook ‘n opvoedingstaak geword aangesien in sommige gesinne, dit noodsaaklik is dat beide ouers werk.

“Daarom word die opvoedingstaak uiters belangrik al lê die opvoedingsverantwoordelikheid nogsteeds op die ouers.”

Dit opsigself veroorsaak dat die onderwysers ook empatie en goeie menseverhoudinge moet handhaaf.

“Jy moet oneindig baie geduld aan die dag lê en bereid wees om dieselfde les oor en oor te verduidelik vir die wat stadiger van begrip is,” sê sy.

Maar dié taak is nooit te veel vir haar nie.

‘n Tipiese dag begin om 7.30vm, wanneer die skole begin.

Dit sluit in opening in die klas vir die grade eens en twees, terwyl die graad dries tot sewes opening het op die aantreeblad.

Die rooster word gevolg tot en met eerste pouse.

Vir Corné is dit niks snaaks om ‘n pleister of twee te plak na pouses nie.

Alhoewel die onderwysers nie medisyne mag gee nie, is ‘n pleister ‘n wonderlike troosmiddel vir ‘n graad een of twee leerling.

Sy sê na tweede pouse is die leerlinge gewoonlik moeg, daarom gee sy lees en mondelinge klas.

Dit volg op elkeen se tas pak om seker te maak dat die kleintjies al hul boeke en of skoene en truie in hul tasse gepak het.

Die wanpersepsie wat die gemeenskap het dat onderwysers net halfdag werk sal gou in die kiem gesmoor word as hulle hoor dat al sluit die skool om 1.40nm, dit nie noodwendig die einde van die dag aankondig nie.

Dit is dan wanneer hulle begin met naskoolse aktiwiteite.

Vir Corné eindig haar skooldag nooit voor 4nm, want sy moet nog klas opruim en neem ook boeke huistoe vir nasienwerk.

Selfs sommige Saterdae word opgeoffer vir sport, maar vir ‘n geroepe onderwyser is dit nie ‘n probleem nie en dit word gedoen vir die liefde van die saak.

Onderwysers is oor die algemeen ook betrokke by fondsinsamelingsprojekte wat dan ook van hul tyd verg, maar dit is beslis nie vir Corné ‘n straf nie, want sy geniet elke oomblik daarvan.

“Ek het ‘n passie vir kinders, veral vir die wat minderbevoorreg is want ek wil ‘n verskil maak. Al is dit net in een kind se lewe,” sê sy.

Koste

Die vierjaar kursus beloop tussen R19 000 en R23 000, koshuisgelde en boeke uitgesluit.

Dié universiteite bied jou ‘n B.Ed graad aan, waarna elke individu kan besluit of hulle verder wil studeer of hul beroep wil begin by ‘n skool.

Onderwys-studente doen ‘n proeftydperk by skole en sommige skole bied dan vir dié studente poste aan.

Universiteite stuur soms mini CVs uit, maar elke individu is verantwoordelik om hul eie CV op te stel en uit te stuur.

Studente-lenings is ook beskikbaar by van die instansies.

Related Articles

Back to top button