Local newsNews

Hulle was bo-op Kilimanjaro

Dit was 'n ongelooflike ervaring

Ses inwoners van Springs het van 6 tot 13 Junie Berg Kilimanjaro, die hoogste vrystaande berg in Afrika, gaan klim.

Martinette Steyn het haar dagboek met die Addie gedeel oor hoe sy en en haar seun Martin, asook Nean van Niekerk, Ria Joubert, Hilda Plumb en haar dogter Samantha, dit beleef het.

Steyn beskryf die week op Kilimanjaro as ‘n “ongelooflike uitdaging” wat ‘n mens ‘n groter perspektief en ander uitkyk op die lewe gee.

Hierdie Springs inwoners was deel van ‘n groep van 36 mense wat die Machame Roete van Berg Kilimanjaro gaan stap het.

Die groep het bestaan uit die stappers, sowel as vier gidse en die res was die mense wat die pakkasie gedra het.

Hulle het die tente, tafels, kos en tot ‘n draagbare toilet die berg op gedra, die daaglikse vyfster kos gemaak en tente opgeslaan.

Steyn vertel die eerste dag se roete was deur ‘n sprokies-mooi reënwoud met sagte reën, asook mos wat oral groei en soos lappe van die hoë bome afhang.

Die eerste aand het hulle by Machame Kamp geslaap, op 2 980m hoog teen die berg uit.

Vanaf die tweede dag het die groep minder plantegroei aangetref en by die Shira Kamp, 3740m hoog, oornag waar hulle die Uhuru-piek vir die eerste keer gesien het.

By die kamp het hulle aand temperature van onder vriespunt begin beleef.

Vanaf die tweede dag het die gidse almal se suurstofvlakke en polsslag getoets, want hoogtesiekete (altitude-illness) is klimmers op hierdie berg se grootste vyand.

Daar is verskeie maniere om dit raak te sien, soos simptome van moegheid, hoofpyn en naarheid.

Steyn sê vanaf die derde dag kon jy voel jy haal al hoe moeiliker asem, raak vinniger moeg en dit was heelwat kouer.

Hulle is op die derde dag verby ‘n lawa-toring en het die hele dag van laag na hoog en terug na laag geklim om te kan akklimatiseer.

Hulle het by die Barranco-kamp oornag, wat 3950m bo seespieël is.

Die vierde dag het die groep begin deur die Barranco-muur handeviervoet uit te klim.

Dit is ‘n muur van 300m hoog wat twee ure gevat het.

Hulle het daardie aand by die Karanga-kamp geslaap, wat hoër is as wat die wolke om die berg is.

“As jy uit jou tent uitkyk, lyk dit asof jy op die wolke dryf. Dit was koud en daar was min suurstof,” sê Steyn.

Dag vyf het die groep na Barafu-kamp, die basiskamp gestap wat 4550m hoog is.

Daar aangekom, is almal al 6nm tente toe om te probeer slaap.

Teen 10uur het hulle opgestaan om’n uur later die piek aan te durf.

Steyn beskryf die laaste tog na die piek: “Daar heers ‘n onseker, bang stilte in die groep en word daar nie baie gepraat nie.

“Ons stap koppe af, jou hart klop al hoe vinniger en jy klim voetjie vir voetjie op na Uhuru op 5 895m.

“Jy voel jou hart in jou klop, stop elke tien treë, haal diep asem, stap, kry asem.

“En uit die niet sien jy die son opkom en jy is bly dat jy nog staande is.”

Die groep het teen 6.30vm Uhuru-piek bereik.

“Dit was ongelooflik. Almal is emosioneel en daar word baie foto’s geneem.”

Steyn vertel as gevolg van die hoogte bo seevlak en omdat hul liggame te swak geraak het as gevolg van die tekort aan suurstof, kon hulle nie te lank daar bly nie.

Hulle is na 10 tot 15 minute berg-af na Makwela-kamp op 3 300m en die volgende dag terug deur die reënwoud om huis toe te keer.

Sien in galleries:

Fotos 1

Fotos 2

Fotos 3

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button