VLU streekskonferensie

Die Vroue Landbou-Unie se lokale Carpe Diem het weggestap met die eerste prys met die meeste punte in blomme tydens die Goudrif streekskonferensie.

Carpe Diem was ook die gasvrou tydens die konferensie wat Saterdag by AGS-Lofoord gehou is.

Dit is die 19de streekskonferensie wat gehou is en elke jaar kry ‘n tak ‘n geleentheid om die gasvrou te wees.

Nege takke verteenwoordig Goudrif streek en 18 verteenwoordigers, 10 waarnemers en 16 gaste het die geleentheid bygewoon.

“Carpe Diem het hulle goed van hulle taak gekwyt met die organisering van hierdie dag en alles het seepglad verloop,” sê Nina Nel, Goudrif streeksvoorsitter.

Pastoorsvrou van die Lofoord-gemeente Lindie Fourie, het die opening waargeneem.

Sy sê alhoewel alles met sorg en moeite gemaak is vir die dag en mooi is, is die vroue nog mooier.

Twintigjaar-lidmaatskap toekennings is gegee vir lede van Boksburg, Birchleigh, Brakpan, DInwiddie, Kemptonpark asook vir die twee Springs takke, Rosa Rosarum en Carpe Diem.

Lokale Tahila sanggroep, Leon Cilliers, Sonja sy vrou en James Chapman het gesorg vir die vermaak en almal het heerlik saamgesing.

Biogenetikus Dokter Gerda Joubert was die gasspreker en het gepraat oor uniek vrouwees.

Sy sê die vroue se waarde is niks anders as die unieke Iemand wat ons geskep het.

Carpe Diem het eerste prys verower met 247 vir die meeste punte vir blomme, Nigel is tweede met 239 punte en Kemptonpark, derde met 234 punte.

Joyce Enslin het ‘n spesiale prys vir prosa ontvang.

Rina de Necker het tweede geïndig in gevorderde blomme met Karen Rowe se tweede plek in die blomme vir beginners en Wilna Evans het die eerste plek weggeraap in die middelbaar afdeling.

Na afloop van die verrigtinge is die jaarvergadering gehou gevolg deur ‘n heerlike middagete.

Carpe Diem voorsitter Christa van der Westhuizen is baie in haar noppies dat die program seepglad verloop het.

“Ek is baie dank verskuldig aan Magda Fourie wat my gehelp het, sonder haar sou dit nie moontlik gewees het nie,” sê sy.

Exit mobile version