Boelies: die werklike boelie

Boelie, afknouer, bulleba , treiter, baasspeler - noem maar op.

Die term en begrip daarvan is aan die orde van die dag en nie vreemd vir enige samelewing of gemeenskap nie.

Soos reeds gemeld is boelie ‘n aanhoudend geweldplegende gedragsvorm, hetsy fisies, psigologies, verbaal ensovoorts, wat gerig word op ‘n individu wat nie in staat is om hom of haar te verdedig nie, deur ‘n individu of groep.

Slagoffers van ‘n boelie of boelies is sensitief, intelligent, vriendelik en sagsinnig wat goeie en stabiele verhoudings handhaaf met hul ouers, familie en vriendekring.

Hulle word nie in hul gesinne blootgestel aan konflik, geweld of ‘n geskree nie met die gevolg dat hulle nie weet hoe om hulle te laat geld wanneer hulle deur die boelie ‘aangeval’ word nie .

Uit die oogpunt van die boelie is hierdie persone uitstekende teikens omdat hulle aangenaam is en nie sal terugbaklei nie. Selfs wanneer hulle dan sou huil, vind die boelie dit selfbevredigend en beskou dit as ‘n bonus.

In die praktyk vind ons ook sekere kinders wat as’t ware boelies na hulle toe ‘aantrek’. Hulle is slagoffers van boeliegedrag op vele terreine soos byvoorbeeld skoolpartytjies, in die klas, op die sportveld en op die skoolterrein.

Die boeliegedrag word aanvaarbaar vir die slagoffer omdat dit vir hom of haar dien as bevestiging van hul eie swak selfbeeld – dat hulle waardeloos is en dit verdien!

In 101 Ways to deal with Bullying. A guide for parents het Michele Elliot onder andere gevind dat kinders en jong persone wat gedurig geboelie word sekere kenmerke in gemeen het:

n Hulle voel ontoereikend en onbeholpe om alledaagse gebeure te hanteer.

n Hulle is self die slagoffer van boeliegeweld in die gesin waar boeliegedrag beskou word as ‘n vorm van krag en beheer.

n Hulle is slagoffers van misbruik, weet nie hoe om hulle gevoelens uit te druk nie of word nie toegelaat om enigsins hul gevoelens uit te druk nie.

n Is onsuksesvol in die skool opset, presteer akademies swak en ervaar ‘n gevoel van geen waardeloosheid.

Daar is egter ook die boelies wat oorloop van selfvertroue. Bedorwe mensies wat dit beskou as hul primêre reg om hul eie gang te gaan en hulle sin in alle opsigte te kry.

Hulle geniet dit eenvoudig om in beheer te wees en sodoende ‘n statusposisie as leier te verkry.

Uitsonderings op die reël kan ook gevalle wees waar ‘n individu soms ‘n ander kan boelie as gevolg van enige skielike omwenteling in hulle lewe soos byvoorbeeld probleme tuis, rou in die familie of gesin, die geboorte van ‘n baba en so meer.

Boelie van ander vind gewoonlik plaas buite sig van ander soos skoolpersoneel of toesigkragte. Ideale plekke is die kleedkamers, verskuilde hoekies op die speelterrein, stegies tussen klasse en veral na en voor skool.

Die vraag is wat kan ons doen wanneer ‘n leerder/kind geboelie word of ons vermoed hy/sy word geboelie.

n Moedig jou kind aan om te praat oor hoe hulle voel. Wees spesifiek wanneer jy vrae vra maar moenie enige reaksie of antwoorde afdwing nie. Jou kind mag skaam wees om te erken dat hy/sy wel geboelie word. Wees altyd ondersteunend en verseker jou kind dat jy altyd beskikbaar en bereid is om te luister wanneer hy/sy gereed is om daaroor te praat.

n Moenie oorreageer nie al is jy woedend. Onthou jou kind is baie sensitief en jou reaksie gaan bepaal of hy/sy die vrymoedigheid gaan hê om verder met jou sy/haar gevoelens te deel of nie. Dit is van kardinale belang dat slagoffers moet praat en nie die aftog blaas en in stilswye verval nie.

n Vra jou kind of hulle enige voorstelle aan die hand kan doen om die situasie te beredder of te verander.

n Vind uit in hoe ‘n mate is jou kind beangs en maak seker dat hy/sy te alle tye beskermd en veilig voel.

n Wees bedag op vreemde gedrag. Wanneer ‘n kind desperaat is, mag hulle wegloop of ‘n oordosis ongewensde middels neem juis omdat hulle hulpeloos voel. Moenie selfmoorddreigemente afmaak as niks nie.

n Gee erkenning aan jou kind en verseker hom/haar van jou liefde en ondersteuning.

n Moedig jou kind aan om ‘n sin vir humor te ontwikkel en ‘n pro-aktiewe handeling om negatiewe gedrag te vermy.

n Probeer om die geboelie so rustig en konstruktief as moontlik te verander.

n Kontak die skool en gee die situasie kans om te verander.

n As jy oortuig is dat dit mag help, kontak die boelie se ouers en bespreek ‘n moontlike oplossing. Dit sal egter afhang van die gesin se gesindheid – sommige ouers sal aggressief ontkennend reageer, al boelie hulle self hul kinders.

n Kontak die polisie en jou geneesheer indien jou kind beseer is.

Wynandus Bezuidenhout (hoof van Protea Skool)

Exit mobile version