Local newsNews

Fietsryer wil nog die pad na vele oorwinnings trap

Fietry legende hou die dorp se naam omhoog.

Die fietsry kampioen, Rohan du Plooy hou nie net die dorp se naam omhoog nie, maar sommer die hele land sin soos hy die een wedren na die ander wen.

Vir hierdie 30-jarige fietsryer was die sport nog altyd ‘n groot deel van sy lewe. Sy pa en oupa het destyds fiets gery vir plesier. ‘n Jonge Rohan het hulle fyn dopgehou en gou in hulle voetspore gevolg.

As ‘n 13-jarige het hy reeds sy eerste fietsry wedren gewen en besef dit is iets wat hy vir die res van sy lewe wil nastreef.

Hy het selfs regdeur sy hoërskool loopbaan tuisonderrig ontvang wat hom die vryheid besorg het om sy passie na te jaag. Rohan erken dat hy pad wedrenne bo grondpad wedrenne verkies.

“Hoewel ek beide geniet, het ek so te sê op ‘n padfiets groot geword en dit sal altyd my passie bly,” vertel hy.

Hoewel hy homself net as amateur professioneel beskou, getuig sy CV anders. Sy trofeekas loop oor van die goud en silwerware.

Rohan het al regoor die wêreld aan wedrenne deelgeneem. Hy het onder andere al in België, Nederland, China, Frankryk, Thailand en Indonesië gery.

Uit die honderde wedrenne wat hy al agter die blad het, bieg hy dat die Cape Town Cycle Tour loshande sy gunsteling Suid-Afrikaanse wedren is.

Hy beskou die Tour de Langkawi wat jaarliks in Maleisië gehou word, as sy algehele gunsteling. Deesdae oefen Rohan ongeveer 12 ure per week en in sy vrye tyd rig hy ander fietsryers af.


LEES OOK: Varke, stank en stof het Casseldale inwoners keelvol


“Tydens die Covid-19 inperking het ek begin om ander atlete af te rig. Dit het eers begin by net een of twee mense maar my afrigting het oor die jare gegroei en ek geniet dit meer as wat ek ooit gedink het ek sou.”

“Fietsry bly my passie maak nie saak of ek self ry en ander net touwys maak nie. Die vervulling wat ek daaruit kry om iemand te sien verbeter en hulle doelwitte bereik, motiveer my.”

Volgens Rohan is tyd wat hy op sy fiets deurbring vir hom ontspanning. Hy geniet die buitelug en erken dat hy verslaaf is aan die adrenalien. Dié kranige fietsryer beoog nog om die Cape Town Cycle Tour te wen en sy grootste droom is om aan die Tour de France deel te neem.

Hy sluit af met: “Rohan is fietsry – dit is wie ek is en dit sal altyd ‘n groot deel van my wees.”




LEES OOK: Springs SPCA rescues dogs from abusive living conditions

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button