Local newsNews

Pottas ongeluk opvolg: Ma en dogters sterk nog in hospitaal aan

Enkele dae na die ongeluk, is 'n nuwe stopteken by die kruising van dié twee besige strate aangebring.

Inwoners van die dorp probeer steeds sin maak van die tragedie wat homself verlede Vrydagaand in Strubenvale afgespeel het.

Dit volg na die ongeluk wat die lewe van ‘n nege-jarige kind geëis het en haar ma en sussies met ernstige beserings gelaat het. (Die Springs Advertiser het verlede week hieroor berig – Ongeluk eis kind se lewe)

Die motorongeluk het op die hoek van Townsendstraat en Nettletonlaan plaasgevind toe twee voertuie teen mekaar gebots het.

Nooddienste moes noodgedwonge die Golf, waarin die Pottas gesin gery het, oopsny om die ma en haar drie kinders uit die wrak te bevry.


LEES OOK: Ekurhuleni commissioner lauds officer for securing a rape conviction


Khloé Pottas is op die toneel oorlede. Haar ma, Lesinda en sussies, Leyla en Mario-reé is na die hospitaal gehaas.

Die 12-jarige Leyla se kopbeserings het daartoe gelei dat sy per helikopter na Netcare Albberton Hospitaal geneem is. Nadat sy vir byna ‘n week onder verdowing was, is haar verdowing ligter gemaak en sy is nou wakker.

Sy sterk steeds in die intensiewe sorgeenheid aan en ontvang sielkundige bystand om die ongeluk en die trauma wat daarmee gepaard gaan, te verwerk.

Lesinda (38) en Mario-reé (15) wat per ambulans na die Life Springs Parkland Hospitaal geneem was, is ook beide steeds in die intensiewe sorgeenheid maar sterk ook goed aan. Hulle ontvang ook sielkundige bystand.

Volgens die kinders se ouma, Renell, gaan die pad na herstel nog lank wees. Sy kan ook nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat die gesin tot dusvêr ontvang het nie.


LEES OOK: Wildlife Society celebrates Arbor Day by planting trees at Marievale


“Ek weet nie meer waar om dankie te sê nie. Mense reg oor die land bel ons en almal bied hulp aan. Ons is ongelooflik dankbaar vir al die ondersteuning en bystand,” sê Renell.

Ten tyde van die ongeluk was die stopstraat se verf nie sigbaar nie en die pad het ook nie oor ‘n stopteken beskik nie.

Enkele dae na die ongeluk het die Springs Advertiser opgemerk dat ‘n stopteken by dié hoek aangebring is. Die stopteken is nog nuut met vars grond om die paal.

Die Pottas gesin het nog geen begrafnis reëlings getref nie en het besluit om te wag totdat Khloé se ma en sussies ook die begrafnis kan bywoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button