Local newsNews

Fietsryers aangeval, beroof

Die Reiners egpaar waarsku fietsryers om op hulle hoede te wees.

‘n Egpaar van New States Area se rustige fietsry middag het onlangs vinnig in ‘n nagmerrie ontaard nadat hulle voorgekeer en van hul duur fietse beroof is.

Hoewel die gesondheidsbewuste paartjie, Bennie (38) en Corrie (36) Reiners dit nog al die jare geniet om saam te oefen en fiks te bly, het die fietsry gogga eers onlangs gebyt. Dit is toe Bennie se nuwejaarsvoorneme vir 2024 die 94.7 Cycle Challenge geword het.

Kort daarna het Corrie ook ‘n fiets aangeskaf en by hom aangesluit.

Ter voorbereiding vir die Woman’s Day Rooiwal Wedren wat op Vrouedag in Pretoria plaasgevind het, wou dié twee op 20 Julie ongeveer 40km aflê met die fokus op opdraande en bulte.

Op dié dag het hulle al langs die N17 snelweg gery en weer terug. Omdat die pad besig was het hulle egter besluit om nie by Springs Mall se afrit af te draai nie, maar eerder verder te ry sodat hulle Tonk Meter afrit kon neem.


Beide die fietse is tydens die rooftog beskadig.

Bennie het voorgestel dat Corrie voor ry sodat hy haar kon sien en help indien sy met die opdraande sou sukkel.

Net nadat hulle van die snelweg afgeklim het, het Corrie twee mans voor in die pad gesien, wat volgens haar glad nie verdag voorgekom het nie. Soos wat hulle nader gery het, het die mans egter nie uit die pad beweeg nie.

“Toe ek opkyk, het ek nog by myself gedink dat die man uit my pad moet kom want ek kon nie nog meer in die pad ry nie, aangesien ek in die verkeer sou beland,” het sy vertel.

Die volgende oomblik het een van die mans ‘n pistool van agter sy rug te voorskyn gebring en vir Corrie beveel om te stop.

Op daardie stadium was Bennie net ‘n paar meter agter haar. Sy het haar fiets tot stilstand gebring en haar oë op die pistool gehou.


LEES OOK: Ipid investigates arrest of two cops accused of kidnapping in Springs


Met Bennie se aankoms het hy vir haar geskree dat sy net moet ry, maar die verdagte het gedreig om te skiet.

“Ek was in skok en op daardie stadium het daar so baie goed deur my gedagtes gegaan,” vertel sy.

Die rowers was arrogant en het die egpaar van hul fietse afgeruk. Terwyl hulle in die pad gelê het, het Bennie geskree dat die mans hulle moet uitlos, wat daartoe gelei het dat die tweede verdagte hulle met ‘n mes dreig het en waarsku om stil te bly.

Omdat die fietse nie gewone pedale het nie, het die rowers gesukkel om daarmee te ry. Hulle het van die fietse afgeklim en dit in die veld gesleep.

Die Reiners egpaar moes toekyk hoe hulle fietse, ter waarde van R28 000 en R25 000, deur die rowers weggedra word. Nie een verbygaande motoris het tydens die voorval stilgehou en hulp aangebied nie.


Bennie en Corrie Reiners het ‘n noue ontkoming gehad toe hulle deur rowers voorgekeer en van hul fietse beroof is.

Tot Bennie en Corrie se verbasing het iemand, nadat die rowers met hul fietse gevlug het, stilgehou en gevra of hulle hulp nodig het.

Bennie het vinnig gereageer en onmiddellik vir AfriForum geskakel. Volgens hulle was drie AfriForum motors etlike minute nadat die oproep gemaak is, by hulle.

Nadat hulle verduidelik het wat gebeur het, is daar onmiddellik tot aksie oorgegaan. Volgens Corrie is hulle in minder as vyf minute nadat AfriForum daar weg is, in kennis gestel dat een van die fietse opgespoor is en dat hulle op die tweede verdagte se spoor is.

Die rowers wou glo die N17 snelweg oorsteek, toe AfriForum hulle voorkeer. Beide die fietse is wel teruggekry, maar ongelukkig met groot skade en die rowers kon daarin slaag om weg te kom.

“Ek is net dankbaar ons nog lewe. Dinge kon veel erger uitgedraai het en dit is net ons Liewe Vader se genade dat hy ons gespaar het,” het Corrie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button