Local newsNews

Rugby vloei deur Smittie se are

Springs Rugbyklub se kaptein is nog lank nie gereed om sy rugbystewels op te hang nie.

André Smith (32), of beter bekend as Smittie, is nog lank nie gereed om sy rugbystewels op te hang nie.
André het ook nie veel bekendstelling nodig nie.

Hy is die speler op die veld wat selde mis wanneer hy pale toe skop. Hy is ook vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar as Springs Rugbyklub se eerste span kaptein gekies.

André het in 2017 by dié klub aangesluit as heelagter. Hy speel tans senter en met sy skoptaktiek wat in die kol is, hou hy wedstryd na wedstryd sy span se naam omhoog.

“Die verskillende posisies leer my om buigsaam te wees sodat ek verskillende aspekte na die wedstryd toe kan bring. Eintlik voel ek soos die ou meubelstuk wat net rond geskuif word,” vertel hy laggend.

Onder André se leiding het Springs in 2022 en 2023 die liga gewen. Hy lei ook sy span deur ‘n goeie voorbeeld te stel.


LEES OOK: Hoër Tegniese Skool Springs learners earn prestigious blazers


Hy was vanaf 2018 tot 2022 die speler wat die meeste punte aangeteken het en hy was 2022 se sportman van die jaar. Hy meen hy staan nie terug vir die druk van kaptein-wees nie.

“Wanneer ‘n mens onder druk is, leer jy baie en om kaptein te wees is vir my ‘n groot verantwoordelikheid, nie net ‘n titel nie.”

André is in 1992 in Vereeniging gebore en het op ‘n jong ouderdom na Benoni verhuis. Sy passie vir die rugby het soos baie ander op ‘n jong ouderdom begin.

“My liefde vir rugby kom vanaf my eerste bulletjie rugby toe ek nog in die kleuterskool was,” vertel hy.
Volgens André was sy ouma en oupa destyds die paramedici wat hom langs die veld aangepor het.

Hy meen die ondersteuning en liefde wat hy by hulle gekry het, hom met elke wedstryd motiveer het.


André is trots om deel van Springs Rugbyklub te wees. Foto: Roné’s Sports Photography

Sy rugbytalent het gesorg dat hy reg deur sy laer- en hoërskoolloopbane jaarliks die A-span behaal het.

Hy was in die laerskool twee keer die speler van die jaar. André was ook verskeie kere op skool vir die Valke span gekies.

Sy passie vir rugby het egter nie na skool opgehou nie en hy het ook in 2011 vir die o19 Leeus gespeel.

Wanneer André nie sy passie op die veld uitleef nie, is hy die veiligheidsbestuurder by ‘n ingenieursmaatskappy. In sy vrye tyd geniet hy visvang en om tyd saam sy vriende te spandeer.

Vir hom is Springs Rugbyklub ‘n baie spesiale plek.

“Van dag een af het almal my op my gemak laat voel en vandag het al daardie vriende, familie geword.”

Volgens hom is rugby ‘n komplekse sport omdat dit oor soveel meer gaan as om die bal agter die lyn te druk.

Hy meen dit behels hand-oog koördinasie, hoe kontak hanteer word, spoed en spanwerk. Hy beskryf die 80 minute op die veld as ‘n wegbreek van die wêreld waar niks anders saakmaak nie.

“Rugby het oor die jare op my gegroei. Dit is al ’n leefstyl en ek mis dit wanneer ek nie op die veld is nie.”

André meen dat hy Springs se tradisie en kultuur vir geen ander rugbyklub sal verruil nie.

“Ek sal graag my laaste wedstryd eendag vir Springs wil speel.”

Hy sê sy droom vir Springs Rugbyklub is dat die klub nooit sal ophou groei nie en dat die gemeenskap saam sal staan om die klub te ondersteun.

“Ek sien myself nog ‘n goeie paar jaar rugby speel. Rugby het my al baie geleer en ek kan nie my lewe daarsonder indink nie. Springs was nogaltyd lojaal teenoor my en daarom sal ek ook lojaal teenoor hulle bly.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button