Local newsNews

Blink toekoms lê vir jong sangeres voor

Haar enkelsnit is huidiglik op Apple Musiek, Spotify en YouTube beskikbaar.

Nadat Lené Kloppers oornag ‘n internet sensasie geword het, droom sy daarvan om nog groot naam in die musiekbedryf te maak.

Die 13-jarige het haar roem onlangs verwerf nadat haar pa, Willie (41) ‘n video van haar wat sing op sosiale media gelaai het.

Sy het die bekende liedjie Master Jack, wat reeds in die 1960’s uitgekom het, ‘n nuwe baadjie aangetrek.
Dié video is al meer as 11 000 keer gekyk en byna 6 000 keer gedeel.

Die impak wat hierdie video gemaak het was selfs groter as wat Lené en Willie kon droom. Lené is na die Melomaan gala-aand genooi wat in Maart plaasgevind het.

By dié spoggeleentheid het sy as sosiale media kunstenaar van die jaar weggestap en is ook genomineer vir die afdeling van beste pop cover.


Trio Lené, Mieke en Inge Kloppers in aksie by Jan se Skuld Fees 2022.

Beide Willie en Lené pronk deesdae op sosiale media nadat Willie twee jaar gelede die Lekkerkry Musiekblad geskep het en sedertdien video’s oplaai waar hulle sing.

Vandag het die blad al meer as 11 000 lede op beide Facebook en Tiktok. Volgens Willie is naweke hulle ateljeetyd.

“Ek vang haar gereëld in die ateljee en dit is vir my lekker om haar te hoor sing. Ek hou baie daarvan om te ontdek wat my stem kan en nie kan doen nie,” vertel Lené.

Willie vertel Lené het van kleins af ‘n groot liefde vir musiek gehad en dat die sang-gogga haar reeds in die kleuterskool gebyt toe sy by Laerskool Jan van Riebeeck se Jantjies sonder Tandjies se ouma en oupa dag op die verhoog opgetree het.

Sy is egter nie die enigste kind wat ‘n noot kan hou nie maar al die Kloppers sibbe is glo gemaklik in die ateljee. Inge (12) en Mieke (9) is net so talentvol soos hulle sussie.


Lené Kloppers by die Lords mark in Vanderbijlpark.

Willie sê alhoewel Inge en Mieke baie talentvol is, is hulle stemme nog ‘n bietjie jonk. Dit keer hulle egter nie om te sing nie en hulle word reeds in die opnames as agtergrondstemme gebruik.

Hy erken ook dat die jonger twee nie altyd die voorbereiding geniet wat nodig is om ‘n nuwe liedjie te leer en oefen nie.

“Maar as hulle hom eers kan sing, put ons genot uit die boonste rakke,” sê Willie trots.

Alhoewel die gesin in Dalpark, Brakpan woon is Lené tans ‘n Graad Agt leerder van die Hoërskool Hugenote.
Haar veelsydigheid ken geen perke nie. Sy was verlede jaar Laerskool Jan van Riebeeck se onder-hoofdogter en is tans die o14A hokkiespan kaptein.

Sy het ook haar plek op die top 20 en redenaarspan verseker. Willie is self ‘n kranige musikant en daarom geniet hy dit om saam met sy dogters musiek te maak.

“Dit is ‘n groot riem onder ‘n man se hart om te sien hoe my kinders dieselfde vreugde in musiek vind as ek.”

Sy beskryf haar pa as die beste pappa ooit.

“Sang is iets wat ons saam doen en ek leer ongelooflik baie by hom.”

Lené kies glo self die liedjies wat sy wil sing. Willie maak haar `backtracks’ en neem haar dan in hulle tuis studio op. Lené geniet dit om ou treffers weer nuut en meer modern op te neem.

Sy het in totaal al twaalf liedjies opgeneem waarvan Master Jack as ‘n enkelsnit vrygestel is en op Apple Musiek, Spotify en YouTube beskikbaar is.

Lené tree gereëld by markte en feeste op maar erken dat die Boskombuis restaurant en gastehuis in Rayton een van haar gunsteling plekke is om op te tree.

Sy het ook al twee radio onderhoude gehad op Bikerhart radio stasie en asook Impala radio stasie. Sy het ook onlangs ingeskryf vir vanjaar se Lexus Youngstar kompitisie.

Die sluitingsdatum is 14 Junie en die wenner sal op 17 Junie aangekondig word.

“Om dit te kan wen en op ‘n groot verhoog saam met groot sterre te kan sing sal ongelooflik wees.”

Lené het haar toekoms goed deurdink en erken dit sal vir haar lekker wees om te kan sing totdat sy eendag oud is.

“Maar ek dink dit is ook goed om na skool te gaan leer en ‘n graad te kry.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button