Local newsNews

Jarelange verbintenis met skool is merkwaardig

Springs inwoner Koos Mulder (79) is die afgelope 45 jaar geen vreemdeling in die gange en veral op die sportvelde van Laerskool Jan van Riebeeck nie. Inteendeel, die skool het eintlik in 1976 ’n helpende hand ontvang wat deur die jare terug geploeg is in die skool en steeds 'n bron van inspirasie is. Oom

Springs inwoner Koos Mulder (79) is die afgelope 45 jaar geen vreemdeling in die gange en veral op die sportvelde van Laerskool Jan van Riebeeck nie.
Inteendeel, die skool het eintlik in 1976 ’n helpende hand ontvang wat deur die jare terug geploeg is in die skool en steeds ‘n bron van inspirasie is.
Oom Koos, soos hy alombekend is, is die pa van oud-Springbok rugbyspeler Japie Mulder, en dit is juis deur sy seun dat sy jarelange verbintenis met die skool ontstaan het.
Japie was vanaf graad een tot sewe ’n leerder aan Jannies en weens sy seun se belangstelling in sport het oom Koos gou betrokke geraak met afrigting by die skool.

Also read: Rugby development in the spotlight

“My kennis wat ek kon bydra was wyd en het met ondervinding gekom,” het oom Koos gesê.
“Ek het in my jonger dae vir Oos-Transvaal rugby gespeel en was deel van die 1972 Curriebeker-span wat in die finaal teen Transvaal gespeel het. Ek het ook aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe in die 100m deelgeneem.”
Hy het wel nie ’n spesifieke pos by die skool nie, maar is vandag bekend as die president van die skool.
Nols Vosloo, adjunkhoof van Jannies, het verduidelik dat hulle oom Koos deel van die skool gemaak het omdat hy altyd daar te vinde is.
“Hy maak elke dag ’n draai by ons. Hy kom kyk hoe ons oefen en ’n geval waar ’n onderwyser dalk nie in die klas is nie sal hy instap en met die kinders gesels.

Oom Koos Mulder is op sy gelukkigste tussen die leerders van Laerskool Jan van Riebeeck.

“Oom Koos het ’n groot liefde vir kinders. Hy deel sy kennis van Godsdiens met hulle en hy speel ’n groot rol in die geestelike bou van die skool,” het Vosloo verduidelik.
Die vriendelike bejaarde het vertel dat hy Jannies gekies het vir sy seun omdat dit die naaste aan sy tuiste was en omdat hy geweet het dat die skool net die beste vir sy kind sal lewer.
“Ek bly my hele lewe al in Springs en ek en my vrou van 55 jaar, Olga (76), bly om die draai van die skool.”
As 19-jarige seun was sy eerste werk as skofbaas op Grootvlei Myn. Hy het op die ouderdom van 57 afgetree.
“Ek spandeer al my vrye tyd by die skool. Die sport en die kinders gee vir my ’n doel in die lewe.”

Also read: Hard-fought victory for Springs Rugby Club

Hy het laggend vertel dat die meisiekinders hom altyd kom haal om na hulle netbalwedstryde te kyk en alhoewel hy graag dié spanne ook ondersteun, verkies hy dit maar eerder langs die rugbyveld.
“Dit voel of ek nie my pligte nakom as ek nie by die kinders betrokke is nie,” het hy gesê.
Hy verduidelik dat dit belangrik is vir kinders om te weet dat hulle elke dag moet begin deur met die Here te gesels en dat jy altyd diegene wat ouer is moet respekteer.
Vosloo het gesê dat jy altyd vir oom Koos langs die veld sal kry, besig om die leerders te motiveer en vir hulle te sê: “Ogies op die bal of Jannies kom nie tweede nie”.
“Liewe Jesus het nog nie vir my ’n sperdatum gegee nie, hier sal ek wees totdat ek nie meer hier is nie,” het oom Koos gesê.
Vosloo het genoem: “Ons is baie dankbaar vir die werk, liefde en ondersteuning wat oom Koos deur die jare na ons kant toe gebring het. Hy is vir almal van ons hier ’n rolmodel.”

Follow us on our social media platforms:

Related Articles

Back to top button