Local newsNews

Genotvolle Kersmusiekfees

’n Groot getal mense het opgedaag om hul gunsteling Afrikaanse sangers by Meat World se Kersmusiekfees en Kersmark wat Saterdag gehou is, te sien.

Dié plek het al deur die jare groot bekendheid vir die lekker gratis musiekfeeste wat hulle aanbied, verwerf.

Vanjaar was daar besluit om ’n Kersfees musiekfees en Kersmark te kombineer wat die mense vreeslik geniet het.

Om 10.30vm was daar al ’n miernes van bedrywighede tussen die verskeie stalletjies en het mense onder sambrele, gereed vir die eerste vertoning, uitgekamp.

Lees ook: Kersvader bederf 44 minder bevoorregte kinders

Alwyn Oberholster was ’n groot gunsteling vir vele mense omdat hy ’n oud-Springs inwoner is.

Belinda Beukes het gesê die feit dat Die Broers ’n spesiale Kersprogram, Die Heiland is Gebore, aangebied het, was die hoogtepunt en het haar dag gemaak.

“Kersfees word gekomersialiseer en ons het nodig om net weer stil te sit en na Kersliedere te luister,” het sy gesê.

Dan was daar ook ’n klomp welbekende kunstenaars insluitende Pieter Smith, Leanie May en Jennifer Zamudio wat opgetree het.

Jennifer het gesê sy was jare laas in Springs en sy was baie bly sy kon weer hier optree.

Die bekende Wynand van Vollenstee, bekend vir sy rolprentdebuut Karate Kallie, was die seremoniemeester vir die dag.

Lees ook: Pink Pistols het ‘n hart van goud

Sy pittige sêgoed het die mense laat skaterlag.

Amanda en Gustav Potgieter het gesê hulle geniet hierdie musiekfeeste vreeslik.

“Waar anders kan jy soveel kunstenaars, gratis en amper op jou stoep geniet?” het Amanda gesê.

Vir Rina en Hannes Grobler was dit die beste vertoning ooit.

“Ons kon heerlik in ons kampstoele met ’n sambreel ontspan en die musiek was puik,” het Rina gesê.

Maar daar was nie net vermaak vir die grootmense nie. Die kinders het die opvoering van Liewe Heksie en Botterblom ook geniet.

Vir Jaydon Robertson (5) was dit ’n belewenis om vir Liewe Heksie Lefinja in lewende lywe te sien.

Hy het gesê dat Karring baie cool was. Karring (Phillru van Achterberg), Heksie (Ana van Achterbergh), Blommie (Debre Rossouw) en Kwaatjie (Botha Enslin), wat ook as Koning Rosekrans verskyn het, het die kinders sprakeloos gelaat.

Organiseerder van die fees, Frans Swart, het gesê dit is altyd ’n wenner om soveel mense met goeie Afrikaanse musiek te vermaak.

“Liewe Heksie is ook altyd vir klein en groot ’n wenner.”

Related Articles

Back to top button
X

.