Local newsNews

Bess en Hennie vier 65 huweliksjare

Hendrik 'Hennie' Greyling (88) en Elizabeth 'Bess' Greyling (87) het verlede Donderdag hul 65ste huweliksherdenking by Rus 'n Bietjie Tuise vir Bejaardes gevier.

Hul huweliksdag van 5 Januarie 1952 was ‘n gebeurtenis wat albei sê hulle altyd sal onthou.

Volgens Bess het die dag normaal verloop, maar hulle het vele oproepe ontvang en ook ‘n pragtige ruiker.

Dié paartjie het mekaar ontmoet in Virginia, in die Vrystaat, terwyl hulle albei met verlof was.

Later van tyd het Hennie, wat beweer hy is ‘n man wat ‘n besluit neem en daarby hou, besluit dit is tyd om haar ouers die groot vraag te gaan vra.

Lees: Huweliksherdenking in die park

Met die verloofring in sy sak, kontak Hennie vir Bess en sê hy wil graag haar ouers ontmoet.

Oppad Wepener toe, waar haar ouers gewoon het, oorhandig Hennie die verloofring aan Bess.

Dus het Hennie, sonder om gras onder sy voete te laat groei, tydens die eerste ontmoeting met sy aanstaande skoonouers sommer gevra of hy met hul dogter mag trou.

Bess sê sy onthou nog haar pa se woorde aan Hennie – “as jy nie met my dogter klaarkom nie, bring haar terug voordat jy met haar trou, nie nadat jy met haar getrou het nie”.

“Dit was baie wyse woorde,” sê sy.

Lees: 60ste huweliksherdenking

Alhoewel Hennie in Springs gebore is, het die egpaar baie rond getrek as gevolg van Hennie se werk as ingenieur op verskeie myne.

Maar 27 jaar gelede het hulle teruggekeer en in Rowhill gaan woon.

Sowat drie jaar gelede het hulle na Rus ‘n Bietjie verhuis en glo dat die besluit wat hulle 65 jaar gelede geneem het nie ‘n blindelingse besluit was nie.

Bess sê Hennie het verlede Donderdag aan haar gesê “dankie vir ‘n mooi leeftyd”.

Vir Bess is die resep vir hul gelukkige huwelik om twee keer te gee en een keer te ontvang.

Hennie is van mening dat die een wat kwaad word buite toe moet gaan. Hy vertel grappend, “dit is van die vars lug wat ek so oud geword het”.

Die egpaar het twee kinders, Estelle Esterhuizen (62) en Dion Greyling (60).

Related Articles

Back to top button