Local newsNews

‘n Fees in Afrikaans

Die Afrisaamfees word elke jaar in Vischkuil gehou, te danke aan Lianne Barnard, Ina Barnard en Manie Schoeman, wat hierdie musiekfees reël vir almal om te geniet.

Saterdag se fees was weereens ‘n hoogtepunt en hierdie drie mense kan trots wees op wat hulle vermag het. Dit was ‘n miernes van bedrywighede tussen die stalletjies wat gesorg het vir die wat honger en dors was, sowel as vir dié wat gekom het vir die musiek.

Met bekende sangers soos Monique, Arno Jordaan, Bok van Blerk, Eden en Steve Hofmeyr, het mense van heinde en ver gekom om hul gunsteling Afrikaanse sanger te hoor sing.

Yolanda Wolmarans en Thuys de Vos, van Pretoria, sê hulle sal beslis weer Springs toe ry vir die volgende fees, want dit was die moeite werd.

“Ons het gekom vir die feestelikhede, sowel as om na Steve te kom luister,” sê Yolanda.

Lincoln Scheepers was aangenaam verras tydens sy eerste besoek aan Springs.

“Dit is fantasties om soveel musikante op een verhoog te sien optree en daar was genoeg stalletjies om aan elkeen se behoefte te voorsien,” sê hy.

Vir die besoekers van Kempton Park was dit net so ‘n groot verrassing.

Joseph en Martie Schoeman is oneindig dankbaar dat hul twee dogters, Martie Meyer en Petro Swart, hulle genooi het om deel te wees van dié fees.

Hulle het seker gemaak hulle sit naby Steve se stalletjie, sodat hulle hom van naderby kon sien en dalk ‘n handtekening of twee kon inpalm.

Monique Schoeman en haar ma, Retha Schoeman, het heerlik gedans op die maat van Arno Jordaan se musiek.

Arno is dié sewe-jarige meisie van Boksburg se gunsteling sanger en sy sal nie die geleentheid deur jaar vingers laat glip om hom op die verhoog te sien nie.

“Hy sing baie mooi,” sê sy.

Petra Kotze en haar vriendin, Madeleine Victor, van Brakpan, het spesiaal gekom vir Bok, Eden en Steve, en hulle het beslis nie teleurgesteld huis toe gegaan nie.

Ina, een van die organiseerders, is bly dat die fees ‘n sukses was en dat elke besoeker waarde vir hulle geld gekry het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button