LettersOpinion

Fantastiese revue

Baie geluk met ’n skitterende revue deur Hoërskool Hugenote!

Ons het vanoggend die voorreg gehad om as grootouers van Eune Engelbrecht, in graad nege, die revue by te woon.

En wat ’n voorreg was dit nie.

Briljant, skitterend en professioneel – alles was puik!

Die beligting, klank, kostuums, kontinuïteit en oorgange was fantasties en die choreografie van hoogstaande gehalte.

As oud-onderwyser wat self ook met hierdie dinge doenig was, besef ek hoeveel werk en geduld hiermee gepaard gegaan het.

Dra asseblief ons gelukwense oor aan die leerders vir hulle toewyding en entoesiasme, die ouers vir hul opoffering van kinders bring en gaan haal asook die koste van die kostuums.

Alle eer, dank en gelukwense aan die personeel wat, met hulle ander verpligtinge, ook sekerlik oor ’n lang tydperk baie ure moes afstaan om hierdie pragtige eindproduk te kon lewer.

U is voorwaar geseënd om sulke toegewyde onderwysers op u personeel te hê!

Wanneer die revue op die planke is, sien ouers net hulle oulike kinders raak en baie min dink aan die onderwysers se harde werk agter die skerms.

Ek wil tog die jongman uitsonder wat aan die stuur van sake gestaan het, ek neem aan dis die produksiebestuurder, Henning Bester. Baie geluk en baie dankie meneer, hou so aan!

Dankie dat u aan ons as grootouers gedink het en hierdie vertoning in ’n gerieflike en veilige tyd vir ons gereël het, asook die bederfie wat daarmee gepaard gegaan het.

Baie dankie vir die leerders se vriendelike hulp om ons oumense oor die straat te help, met die trappies op tot by ons sitplekke en weer terug af na die vertoning. Die bejaardes met rolstoele of looprame is net so vriendelik gehelp.

Dit is met soveel deernis en vriendelikheid gedoen asof ons hulle eie grootouers is. Ons waardeer dit van harte.

Piet Engelbrecht

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button