Local newsNews

Inwoner se stelsel waarsku as daar aan ‘wheelie bins’ gepeuter word

Johan Breytenbach (64) se ’n idee om inwoners te waarsku sodra daar aan hul vullisdromme gepeuter word het ’n werklikheid geword.

Sedert die Ekurhuleni Metro verlede jaar aangekondig het dat ‘wheelie bins’ aan alle inwoners in Ekurhuleni voorsien gaan word, het hierdie Petersfield inwoner begin wonder hoe hy sy vullisdrom gaan beveilig en verhoed dat sy vullisdrom voete kry.

Alhoewel Johan al sedert verlede jaar met die gedagte worstel, het hy eers onlangs die bul by die horings gepak, sy planne bymekaar gesit en in ’n japtrap sy demonstrasie model voltooi.

Johan het ’n plank geneem, dit groot genoeg gesny om onder die drom in te pas en ’n wasgoedpennetjie daarop vasgeplak.

Die wasgoedpennetjie is aan ’n elektriese kabel koppel wat lank genoeg is om tot by sy huis te kom.

Aan dié kabel is ’n fietsklokkie en skakelaar gekoppel.

Deesdae se fietsklokkies het ’n battery in en Johan beveel aan dat dit gebruik word.

Die vullisdrom word bo-op die plank geplaas en sodra die drom van die plank verwyder word, lui die klokkie.

Sy vrou, Martie (64), sê die klokkie lui so hard dat voornemende diewe hulle boeglam gaan skrik.

“Dit is ’n eenvoudige konsep wat vele mense sal help om hulle dromme so gou as moontlik terug in die erf te bring,” sê hy.

Vandat Johan op pensioen is hou hy homself besig met allerhande takies en in die Breytenbach tuin is vele van sy skeppingswerke te sien.

Hy hoop om hierdie demonstrasie model van hom te verbeter en vertrou dat sy vullisdrom so behoue sal bly.

Related Articles

Back to top button