Local newsNews

Springs se matrieks het so gedoen

Drie Afrikaanse skole kry 100%.

Drie van Springs se Afrikaanse hoërskole het ‘n 100% slaagsyfer in die 2014 Nasionale Senior Sertifikaat matriek eindeksamen behaal.

Die leerlinge het hul uitslae Dinsdagoggend by hul skole gaan haal na die Departement van Onderwys dit op Maandagaand bekend gemaak het.

Beide skole vir leerlinge met spesiale onderwysbenodighede, Olympiapark Skool en Dr WK du Plessis, het ook 100% slaagsyfers gekry.

Die vreugde was groot by Olympiapark Skool waar elkeen van die 23 leerlinge se uitslae gevier was.

Skoolhoof Frans Gildenhuys sê hy is baie trots op sy matrieks se prestasies.

Hulle het vir die sewende opeenvolgende jaar ‘n 100% slaagsyfer gekry.

Olympiapark Skool se twee top presteerders was Lindie Britz en Lee-Ann Button.

Dr WK du Plessis het vir die tiende opeenvolgende jaar ‘n 100% slaafsyfer gekry.

Agt van die 24 kandidate wat eksamen geskryf het, het universiteitstoelating gekry.

Etienne Flies, adjunkhoof van die hoërskool, sê die matriekleerlinge se prestasies is besonder aangesien die spesiale onderwys behoefte kinders dieselfde eksamen as ander kandidate geskryf het.

Die skool se top presteerders was Derrick Zeh, Shumi Radebe en Theuns Visser.

Protea Skool het ook ‘n 100% slaagsyfer gekry.

Dit is die vyfde jaar dat hulle hierdie slaagsyfer behaal.

“Ten spyte van hulle leer-uitdagings, het hulle die gewone matriekeksamen geskryf en almal het bo hulle vermoëns uitgereik,” sê Magda Barnard, wiskunde onderwyseres by Protea Skool.

“Ons is baie beïndruk met ons kinders, aangesien hulle die eerste groep matrieks was wat die nuwe Kurrikulum en Assesserings-Beleidsverklaring (KABV) kurrikulum geskryf het,” sê sy.

Protea Skool spog met vyf leerders wie universiteitstoelating gekry het, 17 diplomas en vier sertifikate.

Hoërskool Hugenote het ‘n 98.5% slaagsyfer gekry.

Die hoof Frans Styger is tevrede met die uitslae juis omdat dit die eerste jaar is wat die 196 matrieks die nuwe KABV doen.

Die skool het 115 onderskeidings behaal.

“Ons is besonder trots op die goeie onderskeidings wat die skool ontvang het,” sê hy.

Alhoewel daar drie druipelinge is, bly Styger tevrede met die uitslae.

Hoërskool Dr Johan Jurgens se slaagsyfer is 98%.

Die skool is trots op die 55% unviversteitstoelating wat 5% hoër is as in 2013 en spog met 52 onderskeidings wat 23 meer is as in 2013.

Die skoolhoof Danie van Wyk sê die drie druipelinge het ongelukkig ‘n taal gedruip, maar hy is verlig oor die slaagsyfer aangesien dit goed vergelyk met 2013 se slaagsyfer.

“Ek is trots op die leerlinge en die onderwysers en is dankbaar vir hulle harde werk, dit het vrugte afgewerp,” sê hy.

Related Articles

Back to top button