BlogsOpinion

Trane van ‘n ouma

'n Ouma se liefde vir haar kleinseun

Skaamteloos moet ek erken dat my blaas naby my oë sit, veral as dit by my kleinseun kom.

My storie begin toe ek my kleinseun opgepas het vir so paar dae en moes regkry vir skool – ‘n eerste vir ouma.

Dis Sondagaand en ek is deeglik bewus daarvan dat ek hom die volgende oggend by die kleuterskool moet gaan aflaai, en dan huiswaarts keer want mamma en pappa se alleen naweek is ook verby en hulle gaan hom by die skool oplaai.

So stel ek die wekker vir sesuur sodat die lys van dinge wat gedoen moet word die volgende oggend betyds afgehandel kan word.

Wat vir ‘n ma tweede natuur is, wek toe bietjie kommer by die ouma, want sien, dit is die eerste keer dat ek die voorreg het om hom gereed te kry vir skool.

Laat ek ook net noem dat hierdie knapie baie woelig is en soms in vreemde tale praat.

Sekere van sy woorde verstaan ek alte goed, maar dan gebruik hy soms woorde en selfs sinne wat die Marsmanne se hare sal laat regop staan.

Moeilik om te verstaan, maar so probeer ek die nuwe taal inneem, al woon ek nie op Mars nie.

Maar die verstandhouding vorder goed en gou het ek die nuwe taal onder die knie, of so dink ek darem.

Na aandete, is hy in die bed en ‘n vinnige ‘bid ouma’ volg. Nou ja, ek bid my beste kindergebed wat ek onthou, en dit word beaam met ‘n amen van Jaydon.

Die reëling in die kinders se huis is om te se ‘lief vir jou’ voor almal tot ruste kom en natuur voor hy gaan slaap.

Met ‘n ‘lief vir jou Jaydon’, skakel ek sy kamerlig af en trek die deur effe toe.

Met soveel passie in sy stem roep hy na my asof ek weg is ‘ouma’.

Net voor sy kamerdeur roep sy woorde my tot stilstand – ‘lief vir jou ouma’, en ja reggeraai, daar loop die trane.

Het ek al genoem my blaas sit naby my oë?

Die woorde word heen en weer herhaal en alhoewel ek later nie meer kon byhou nie, het hy aangehou tot sy stemmetjie al hoe sagter geword het tot hy uiteindelik aan die slaap geraak het.

Of dit van moegheid was weet ek nie, maar ek wil glo dit is met ouma-liefde wat hy aan die slaap geraak het.

Ai, die onvoorwaardelike liefde van ‘n kind.

Nou ja, met die wete dat die knaap sy ouma baie liefhet, maak ek ook gereed vir die bed net om agter te kom slaap ontwyk my, en sy woorde ego voort in my gedagtes.

Dit is die mooiste woorde en weer loop die trane, maar die keer van dankbaarheid.

Dankbaarheid teenoor die Here vir die voorreg om te kan liefh̻ Рonvoorwaardelik en sonder voorbehoud.

So strooi klaasvakie uiteindelik sy sand in my oë en raak ek aan die slaap net om 4uur wakker gemaak te word met sy engelstem ‘ouma’.

Nou ja, hy was net dors en hier lê ouma wakker tot 5.30vm tot ek die so bekoorlike woorde ‘ouma lief vir jou’ hoor.

Soos musiek in my ore en trane van blydskap wat wil loop, kry ek die knapie gereed vir skool, pak sy tas met die nodige doeke, boudsalf en ekstra stel klere sowel as die kosblik met toebroodjies en lekkernye vir die dag.

Dit is ‘n hele klompie jare gelede wat ek my seun na sy graad een klas vergesel het, maar niks kon my voorberei op dit wat by die kleuterskool op my wag nie.

Hy kyk na my met daardie groot bruin oë wat sê ‘vat my saam met jou huistoe ouma’.

So sluk ek heeltyd die trane weg, maar ek dink tog sy juffrou kon deur my braafheid sien.

Die afskeid was swaar en die skrams soen op ouma se mond net een te veel vir hierdie ouma-hart.

So vinnig wat ek kon, het ek weggestap en skaamteloos aan die huil gegaan.

Terug by die huis huil ek kliphard en onbedaarlik terwyl ek in sy afwesigheid vir hom vertel hoe lief ek hom het en dat hy altyd diep in my hart sal bly sowel as in my gebede.

Trane word wel gevorm in assosiasie met sterk emosies soos hartseer en vreugde, maar hierdie ouma se trane was trane van liefde.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button