Local newsNews

Bejaarde brei en kook vir behoeftiges

Skenkings van wol sal haar in staat stel om voort te gaan met haar liefdadigheidswerk.

Vir die hande van ‘n 80-jarige inwoner van Casseldale staan daar niks verkeerd nie.

Wanneer Ina Grobler ‘n paar breinaalde in die hand het of agter haar stoof staan om sop te kook is sy op haar gelukkigste.

Dié inwoner brei al vir ‘n geruimde tyd kniekomberse, mussies en serpe vir God’s Angels, ‘n nie-winsgewende organisasie wat die items onder behoeftiges versprei.

In ruil daarvoor verskaf God’s Angels aan Ina vervoer na en vanaf haar oogspesialis. Ina is baie bysiende en brei reg voor haar gesig sodat sy die steke kan sien.


Ina Grobler by voltooide kniekombersies en mussies wat sy gebrei het.

Dit kry haar egter glad nie onder nie. Na mate haar sig verswak, brei Ina al hoe stadiger, maar sy weier om op te gee.

“Ek het ‘n rukkie gelede vir iemand se vriendin ‘n onderbaadjie gebrei, waarna sy my wou betaal. Toe sê ek vir haar, ‘Nee, hoekom? Ek brei vir die plesier!’,” het sy vertel.

Hoewel Ina graag wil aanhou brei is die koste van wol ‘n struikelblok. Met ongeveer R500 se wol kan sy net twee of drie kniekombersies brei.

Ina het ‘n beroep op die publiek gedoen om wol (al is dit oorskietwol) aan haar te skenk sodat sy met haar liefdadigheidswerk kan voortgaan.


Ina Grobler kan op gevoel brei, maar hou gewoonlik die breipenne nader aan haar gesig sodat sy die steke kan sien.

Wolskenkings van enige dikte, kleur of tekstuur kan by die Advertiser se kantoor by Vyfdelaan 48 afgelaai word, waarvandaan dit na Ina geneem sal word om haar te ondersteun in haar passie.

Benewens Ina se liefde vir brei, maak sy ook gedurende die wintermaande potte en potte vol sop, wat God’s Angels aan haweloses en behoeftiges uitdeel.

Sy maak groentesop, boontjiesop, tamatiesop, lensie- en gortsop, en botterskorsiesop.

In 2022 het sy ongeveer 40l sop per week gekook en as ‘n blyk van hul waardering het God’s Angels vir haar ‘n spesiale beker en ‘n splinternuwe versapper gegee.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button