Local sportSport

Krygerswedloop ‘n sukses

Die ATKV Krygerswedloop het Saterdag by Hoërskool Hugenote se sportvelde plaasgevind.

Werner van Schalkwyk, een van die organiseerders, vertel dat die Krygerswedloop een van Suid-Afrika se mees fisiese hindernisbane is.

Dis ’n sport wat roetes, met verskeie fisiese uitdagings in die vorm van struikelblokke, inkorporeer.

“Die ATKV Jonge Bomme Jeugtak se Krygerswedloop was alles net vir liefdadigheid,” sê Werner.

“Ons het drie verskillende roetes gehad om dit vir almal moontlik te maak om aan die Krygerswedloop deel te neem.

“Ons doel was ook om verskillende leerlinge op skool, wat verskillende vaardighede het, die geleentheid te bied om teen mekaar te kompeteer, hul gevoel van avontuur uit te leef en om struikelblokke te oorkom.”

Hy vertel dat die Krygerswedloop oor die bevordering van ’n aktiewe, gesonde leefstyl met die klem op die belangrikheid om dapper te wees en uitdagings te oorkom wat die liggaam, verstand en gees tot die uiterse beproef, handel.

Die ATKV Jonge Bomme Jeugtak het vanjaar die ‘Nasiebou’ toekenning, uit 316 ander jeugtakke, vir hul Handevat-projek, ontvang.

“Ons het met ’n groentetuin by Kinds Haven Kinderhuis begin, maar dis nie waar ons stop nie,” sê Werner.

Winste uit die Krygerswedloop gaan ook ten bate van dié projek aangewend word.

“Die dag was ’n groot sukses.

“Ek kan met trots in my hart sê dat ek, as voorsitter van die jeugtak, alles vir die afgelope twee jaar gegee het.”

Werner tree af as voorsitter en vertel dat hierdie sy laaste Krygerswedloop was wat hy vir die ATKV Jonge Bomme Jeugtak gereël het.

“Ek wil dankie sê vir die geleentheid om deel van so ’n fantastiese span te kon wees.

“Ek tree af omdat ek volgende jaar in Graad 11 is en, aangesien ek eendag in die politieke wêreld wil ingaan, op my skoolloopbaan moet fokus.

“Baie dankie aan die gemeenskap waarmee ek kon werk. Springs, as ons hande saamvat maak ons ’n verskil.”

Related Articles

Back to top button