NewsSchools

Vele onderskeidings vir Afrikaanse skole

Twee van Springs se Afrikaanse hoërskole het 'n 100% slaagsyfer in die 2015 Nasionale Senior Sertifikaat matriek eindeksamen behaal.

Die leerlinge het hul uitslae Woensdagoggend by hul onderskeie skole gaan afhaal, nadat die Departement van Onderwys dit Dinsdagaand om middernag vrygestel het.

Beide skole vir leerlinge met spesiale onderwysbenodighede, Olympiapark Skool en Protea Skool, het 100% slaagsyfers gekry.

Dit is die 15de jaar wat hulle hierdie slaagsyfer behaal.

Die 38 leerlinge was uit hul vel van opgewondenheid toe hulle by Protea Skool opdaag waar elkeen se uitslae met ‘n glimlag gegroet is.

Hul top leerling is Dean Goodrich wat ook die top LSEN student in Gauteng is.

Wynand Bezuidenhout, hoof van die skool, sê dit is ‘n besondere prestasie vir ‘n LSEN leerling om hierdie hoogtes te bereik.

Hy skryf die skool se slaagsyfer sukses toe aan ‘n span toegewyde personeel wat dit bewerkstellig het en ook die betrokkenheid van die ouers.

Die skool is vanaf 2016 ‘n volwaardige tegniese LSEN skool wat vakke soos tegniese wiskunde en wetenskap sal aanbied vir graad 10s.

Protea spog met sewe onderskeidings, ses leerlinge wie universiteitstoelating gekry het, 29 diploma en drie sertifikate toelating.

Dit is ‘n vreugdevolle geleentheid vir Olympiapark Skool wat vir die agtste agtereenvolgende jaar ‘n 100% slaagsyfer gekry het.

Skoolhoof Frans Gildenhuys sê hy is baie trots op die matriek prestasies.

Hy sê sosiale faktore word ‘n groot probleem wat veroorsaak dat baie van sy leerlinge sukkel om te vorder.

Dr WK du Plessis Skool se slaagsyfer het gedaal van 100% na 97%.

Die skool het 33 matriek leerlinge gehad waarvan een gedruip het.

“Dit sou die 11de jaar gewees het wat die skool ‘n 100% slaagsyfer sou behaal, maar ons is nogtans trots op al ons matrieks wat geslaag het en vir die een onderskeiding,” sê Ettiene Flies, adjunkhoof van die skool.

Hoërskool Hugenote het ‘n 98.4% slaagsyfer gekry wat dieselfde as verlede jaar s’n is.

Van die 190 studente het 117 universiteitstoelating gekry en die skool spog met 136 onderskeidings.

Die skool se top student is Xander Heaney wat spog met ‘n 90.8% gemiddeld.

Die hoof, Frans Styger, sê hy is trots op die groep van 2015.

“Hugies het talle onderskeidings behaal en ‘n groot groep het 79% of 78%, wat na die hernasien moontlik onderskeidings kan word, soos wat telkemale in die verlede gebeur het,” sê hy.

Die skool wag nog vir terugvoer van die Gauteng Departmenet van Onderwys nadat vyf leerlinge die verkeerde Engelse vraestel geskryf het tydens die eksamen.

Hoërskool Dr Johan Jurgens se slaagsyfer is 98.63% wat ‘n 0.63% verbetering toon.

Kristy Thomas is die skool se top presteerder en spog met vyf onderskeidings.

Die skool is trots op die 51 onderskeidings wat die leerlinge losgeskryf het.

Werner Prinsloo, die skool se adjunkhoof, sê hy is baie trots op die leerlinge en die slaagsyfer en wens die leerlinge sterkte toe vir hul toekoms.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button