BlogsOpinion

Trotse diere pronk ook

Diere is ’n mens se beste vriend.

Diereliefhebbers kan hul vereenselwig met elke woord van hierdie gesegde.

Op ons kleinhoewe het ons ganse, hoenders en skape, almal mens-mak.

Elke hoender kondig trots hul nuwe kuikens aan en so ook die ganse.

Alhoewel hulle nog tans besig is om te broei.

Gansie was ons enigste gans todat ons kinders besluit het dit is onregverdig teenoor haar om die lewe so eensaam deur te gaan.

Weet jy, Gansie het eintlik ’n koningslewe gehad!

Die skape het haar ‘aangeneem’ as ’n skaap-kind en gedurig haar vlerke gelek.

So het Gansie ook dan haar lêplek saans ingeneem reg langs die skaaphok.

Ons sluit hulle saans toe om te verhoed dat boosdoeners ons dierekinders kom vat sonder ons toestemming.

Nou ja, daar daag die kinders toe met drie ekstra ganse op.

Gansie het haar nie sommer laat beïnvloed deur die nuwe familie nie.

Ewe kordaat het sy haar staanplek ingeneem op die komposhoop en vandaar die res in gansetaal laat weet hulle is nie welkom nie.

Die nuwe mannetjie het hom natuurlik nie laat afsit deur haar nie en tans lê ‘madampie’ op haar eiers en wag geduldig dat hulle uitbroei.

Na sowat ’n week het sy toegelaat dat die nuwe ganse naby haar skaap-familie kan kom.

So is ook elke skaap vir ons dierbaar.

Soggens voor werk, kry hulle ’n spesiale bederf in hul voerbakke en saans word dieselfde bederf uitgedeel.

Is dit nou behoorlik vir jou ’n storie om in die aand vir hulle kos te gee.

Die hele trop storm op ons af en ons moet net bontstaan om die kos in hul voerkrippe te kan gooi.

So skaap kan lelik omge-ellie word as jy in die pad staan van hulle en hul aandete.

Maar nadat ons hulle almal aan die eet het, is hulle tevrede.

En so kom dit dan dat die een na die ander ooi moet lam.

Mensig wat ’n gedoente!

Die ooi beskerm natuurlik haar lam met alles in haar vermoë, maar sy laat ons darem toe om die lam te liefies.

Die beste belewenis ooit is die ooie wat in die aand lam.

Elkeen het ’n karakter van hul eie.

Ons het die ou ooi ‘ouvrou’ gedoop en sy skenk toe onlangs oornag die lewe aan ’n pragtige ooi lammetjie.

So wil sy nie uit die skaaphok gaan voordat ek nie eers haar kop gevryf en haar ’n soentjie gegee het op haar sagte wang, om haar geluk te wens met haar lam nie.

Ons is dankbaar dat hulle nie almal op een dag gelam het nie, want dit sou ons elke dag laat vir werk gemaak het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button