NewsSchools

Springs se top presteerder

Hugo de Villiers van Hoërskool Hugenote is baie tevrede met sy agt onderskeidings.

Die top presteerder in Springs is Hugo de Villiers van Hoërskool Hugenote. Hy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, geografie, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Sy negende vak is drama en hy het 78% daarvoor behaal. Hy het gister (7 Januarie) aansoek gedoen vir ‘n hermerk van hierdie vak se eksamen.

‘n Hermerk kan moontlik vir Hugo ‘n negende onderskeiding in die sak bring.

“Ek het die drama vraestel baie moeilik gevind, maar het tog gehoop op ‘n onderskeiding.”

Alhoewel hy goedkeuring gekry het by die Universiteit van Pretoria om BSc biologiese wetenskappe te gaan studeer, is hy op ‘n waglys om medies by die Universiteit van Pretoria of die Universiteit van die Witwatersrand te gaan studeer.

Volgens Hugo kry die top presteerders wat in die BSc rigting studeer na ses maande die keuse of hulle wil verander na ‘n mediese rigting.

Die 18 jarige is in sy noppies nadat hy ook Woensdag gehoor het dat hy ‘n kontantborg ontvang het.

“Dit dek al my handboekgelde, waarvoor ek innig dankbaar is.”

Sy droom is om ‘n pediatriese neuroloog te word, sy eie praktyk te begin en later ‘n kliniek vir minder bevoorregtes oop te maak.

Hugo sê as Suid Afrikaners is ons in ‘n bevoorregte posisie om ander te kan help, en dit is waarna hy streef.

Die eerstejaarskamp wat Maandag (12 Januarie) by die Universiteitsoord in Pretoria begin is vir hom iets om na uit te sien.

Akademie was nog altyd vir hom belangrik, maar hy is speel ook graag klavier en is lief vir lees.

Tans lees hy die Game of Thrones reeks en fantasie leesstof val in sy smaak.

Op skool het hy graag aan redenaarskompetisies en debatte deelgeneem wat hy vreeslik geniet het.

Sy raad vir voornemende matrikulante is om van dag een af reeds hard te werk.

“Let op in die klas en doen elke dag hersiening.”

Hy verseker dit sal die spanning verlig tydens eksamentye.

Related Articles

Back to top button