BlogsOpinion

Wat doen ons met dit wat God vir ons gee?

Vertel van Sy liefde en Vrede in jou lewe en dit wat Hy aan jou gee?

Op ‘n dag, nadat ek vir Jesus tydens my oggend-gebed gevra het “vul my hart met U vrede wat alle verstand te bowe gaan”, het die volgende vraag later die dag na ‘n spesifieke insident, in my gedagtes gekom: Wat doen ons met dit wat God vir ons gee? Ek kom daardie spesifieke oggend by een van my kollegas in haar kantoor en sy maak die opmerking: “Jy straal so, is jy dalk verlief?”

Ek is toe ook vining om te antwoord: “Ek wens ek was verlief, dat daar  iemand spesiaal in my lewe kon wees!”, want op daardie stadium het ek niemand spesiaal in my lewe gehad nie. Toe ek later na my kantoor toe loop wonder ek oor haar woorde, “ek straal so, dat dit lyk of ek verlief is”. Meteens besef ek, dat die rede waarom ek straal, is omdat ek binne my gemoed soveel vrede ervaar; die Here het inderdaad vir my gegee wat ek hom daardie oggend in my gebed gevra het; d.i. die innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan!

Ek is sommer dadelik spyt oor die antwoord wat ek haar gegee het. Was dit nie ‘n goeie geleentheid wat ek gehad het om te getuig dat Jesus die “beantwoorder is van gebed” nie.  Jesus het aan my gegee wat ek Hom gevra het, maar wat het ek daarmee gedoen?! Dit het my al hoe meer laat besef hoe ongeërg ons deur die lewe gaan. Wat maak ons met wat God aan ons gee?

Selfs met opdragte wat God in Sy woord aan ons gee: Doen ons wat Hy van ons vra? “Julle moet doen wat die woord sê…”(Titus 2). Hier vind ons ‘n praktiese uiteensetting van hoe ons moet leef; wat die woord van God ons leer en hoe Hy wil hê ons moet leef! Let veral op na vers 8 “….dan sal elke teëstander in die verleentheid kom dat hy niks sleg van ons sal kan sê nie”. In verse 12 tot 14 sê die Woord aan ons dat ons die wêreldse begeerlikheid moet verloën en dat ons ywerig moet wees in goeie werke.

God het deur sy reddende genade Jesus Christus aan ons gegee, om ons te verlos van ongeregtigheid.  Hy het Sy Heilige Gees oor ons uitgestort om binne ons te kom woon sodat ons Erfgename van Hom kan word, ooreenkomstig die hoop van die Ewige Lewe! Ons kan NIKS doen om die ewige lewe te beërwe nie, maar God verwag net van ons om Jesus Christus as ons Saligmaker aan te neem en ‘n Godvresende lewe te lei sodat ons Getuies van Hom kan wees en sodoende Sy liefde teenoor mekaar  sal kan uitdra.

Gaan jy van nou af vir ander vertel wat Hy vir jou gedoen het? Vertel van Sy liefde en Vrede in jou lewe en dit wat Hy aan jou gee?

 

—ooOoo—

Related Articles

Back to top button