Lag lekker saam ‘Van’ in Julie

Ons wil hê dat mense die teater moet verlaat met ’n glimlag en die positiewe boodskap dat alles oukei sal wees, ongeag van jou omstandighede of tekortkominge.

VAN DER MERWE word op 28 Julie landswyd uitgereik en die rol word vertolk deur die welbekende Rob van Vuuren.

Rob sê hy het ‘n fantastiese tyd op stel gehad en dit was ‘n wonderlike ervaring. “Dit was ‘n onvergeetlike ervaring en geleentheid om so ‘n ikoniese karakter te vertolk. Ek dink mense gaan lekker lag om te sien hoe ‘Van’ lewe kry op die grootskerm en ek hoop hulle kan hulself in sekere situasies vereenslewig met die karakter. Ek het dit baie geniet om Van te speel en ek hoop die kykers geniet,” voeg Rob by.

Die onderwerp van Suid-Afrika se gunsteling-grappies, kry lewe in hierdie splinternuwe komedie oor die buiteperd. Ten volle toegerus met sy wanopvattings, vooroordele en kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees, gaan VAN DER MERWE jou laat lag, huil, en ineenkrimp wanneer hy probeer om ’n moeilike situasie reg te stel, en ’n groot gek van homself maak, terwyl hy daarmee besig is. Sy liefdevolle vrou, beeldskone dogter, en statige aanstaande Britse skoonseun sal jou amper laat glo dat sy geluk besig is om te draai …

Vervaardigers Craig Jones, Bruce Macdonald, Murray Macdonald en Bruce Lawley bring ’n splinternuwe, tong-in-die-kies familiekomedie na die grootskerm, wat afspeel op ’n plaas in Suid-Afrika.

Elke land het iemand met wie hulle spot. In Ierland is dit Paddy, in Israel is dit Hymie en in Suid-Afrika, is daardie persoon Van der Merwe … hierdie storie gaan oor hom.

“Van is deel van ons kultuur, ’n karakter met wie ons almal kan vereenselwig. Hy het ’n geskiedenis en ’n plek in ons harte. Om aan hom lewe te gee, op die grootskerm, is iets wat almal graag wil sien,” sê regisseur en draaiboekskrywer Bruce Lawley oor VAN DER MERWE – sy eerste vollengte film.

Die film vertel die verhaal van Van se dogter, Marike, wat terugkeer na ’n oorbruggingsjaar in England. Maar sy is nie alleen nie. Haar verloofde, George, ’n Britse mediese student, is aan haar sy. Dit skep die perfekte geleentheid vir talle probleme en uitdagings.

“VAN DER MERWE is ’n goedvoel-fliek. Ons wil hê dat mense die teater moet verlaat met ’n glimlag en die positiewe boodskap dat alles oukei sal wees, ongeag van jou omstandighede of tekortkominge. Maar dan moet jy vir jouself kan lag. Jy kan die lewe nie te ernstig opneem nie. Bly getrou aan wie jy is, moenie moed opgee nie en hou altyd aan met glimlag,” meen Lawley.

Behalwe vir van Vuuren se uitmuntende vertolking van Van, sluit die rolverdeling ‘n hele reeks bekende name in soos Ian Roberts, Chanelle de Jager, Reine Swart, Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen om maar net ’n paar te noem. Kurt Darren maak ook ’n gasvertoning as ’n sanger by die troue en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van se beste vriend.

VAN DER MERWE beloof om kykers te laat skaterlag met skreeusnaakse familie- en kultuurkonflik, ongemaklike situasies, en katastrofes wat die Van der Merwe-titel meer as gestand sal doen. Dié rolprent word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment.

* Vrygestel deur: Alishia van Deventer, van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version