EntertainmentLifestyle

Kroatoa is onvergeetlike vermaak vir Vrouemaand

Kroatoa (Crystal Donna Roberts) is ’n tragiese heldin en haar vergete verhaal gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm.

Die film Kroatoa doen beslis die film se indrukwekkende naamgenoot gestand en het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici, regoor die wêreld, verower.

Dit gebeur selde dat ’n rolprent soveel trefkrag het dat dit, selfs voor die bekendstelling aan die Suid-Afrikaanse publiek, kan spog met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste, soos die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-Rolprentfees.

Daar is ook sewe gesogte toekennings waaronder ’n Toekenning van Uitnemendheid by Die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival, ’n Platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings, ’n Diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers, ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by The IndieFEST-filmtoekennings, ’n Toekenning van Uitnemendheid met Spesiale Vermelding vir Vroulike Filmmakers by die Accolade Global Film-kompetisie en ’n Wêreld-Platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.

Kroatoa (Crystal Donna Roberts) is ’n tragiese heldin en haar vergete verhaal gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm.

Die rolprent word in Vrouemaand vrygestel en is die perfekte manier om die verskil, wat die vroue in ons land maak, te vier.

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige elfjarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck (die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie en haar oom se handelsvennoot) te gaan werk.

Sy word na die eerste Fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootword as ’n visionêre jong dame wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan, dat sy ’n invloedryke tolk word vir Van Riebeeck (Armand Aucamp). Krotoa word egter op die ou einde deur haar eie Khoi-mense verwerp en deur die Hollanders vernietig wanneer sy probeer om ’n middeweg tussen die twee kulture te vind.

Kroatoa, uit die pen van Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, is geskep deur ’n dinamiese span vroue, met bekroonde filmvervaardiger Roberta Durrant as regisseur en vervaardiger.

Crystal Donna Roberts, wat naam gemaak het in flieks soos Endless River en Skeem, asook televisiereekse soos 7de Laan en Getroud met Rugby, vertolk die rol van Kroatoa. SAFTA-wenner Armand Aucamp wat veral bekend is vir sy indrukwekkende vertolkings in Ballade vir ’n Enkeling en Die Boekklub speel Jan van Riebeeck, terwyl ander gesoute akteurs, soos Jacques Bessenger, Deon Lotz, Marcel van Heerden, Roeline Daneel, Brendan Daniels en Ernest St Clair ook in hierdie boeiende verhaal te sien is.

Kroatoa is ’n treffende film oor ’n dapper vrou, wat alles in die stryd gewerp het, om geboorte te gee aan die nasie waarvan ons almal vandag deel is. Dit het nie net ’n kragtige boodskap, waarmee almal kan vereenselwig nie, maar beloof ook om die kyker op ’n onvergeetlike avontuur te neem na vervloë tye.

Kroatoa is vervaardig deur die SAFTA-bekroonde rolprentvervaardigingsmaatskappy Penguin Films, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Die rolprent word op 4 Augustus, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

*Uitgereik deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button