Len Muller se nuwe enkelsnit, Ek Glo

Sanger en liedjieskrywer, Len Muller, se sielvolle musiek het van hom ’n kitstreffer gemaak in die ore en harte van musiekliefhebbers regoor die land.

Sanger en liedjieskrywer Len Muller se sielvolle musiek het van hom ’n kitstreffer gemaak in die ore en harte van musiekliefhebbers regoor die land.

Sy splinternuwe enkelsnit, Ek Glo, is pas bekendgestel en beloof om nie net voort te bou op dié wenresep nie, maar dit ook te oortref.

Die snit is die eerste vrystelling vanaf sy opkomende album, Oog van die Storm.

Die blondekopsangsensasie het in 2012 besluit om Richardsbaai se see en sand te verruil vir ’n solo-sangloopbaan in Pretoria. Dit het gelei tot die vrystelling van sy eerste EP album, Len Muller, wat hom amptelik aan aan die musiekbedryf bekendgestel het.

Sy debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, is baie goed ontvang en het heelwat treffers opgelewer wat gereeld koning gekraai het op treffersparades en musiekprogramme.

Dié juweel het ook aan hom verskeie Ghoema- en Tempo-benoemings, waaronder Manlike Kunstenaar van die Jaar en Nuweling van die Jaar, besorg. Smag na Jou, die debuutenkelsnit, is vandag steeds ’n gunsteling en is gebruik op die klankbaan van die romantiese komedie, Strikdas.

Vir Die Een Wat Geval Het, wat in 2016 saam met Joshua na die Reën uitgereik is, het groot opslae gemaak en kry gereeld speeltyd op die radio en kassie.

Ek Glo is eie aan die Afrikaans-akoestiese styl waarvoor Len bekendheid verwerf het en is deur die sanger self geskryf.

“Die lied kom uit ’n seisoen waar ek heelwat geloofstappe moes vat om dit te doen wat ek geroep is om te doen,” vertel hy.

”Die lied is in ’n sekere sin ’n uitnodiging om te glo. Om te glo in ’n Skepper wat die pad aanwys, maar ook om te glo in dit wat Hy in ons elkeen geplaas het.

“Ek wou graag ’n lied skryf wat kommunikeer waar ek glo my krag vandaan kom. Ek skryf baie diep, en selfs hartseer musiek, maar wou hierdie keer graag iets skryf waarop luisteraars wil dans en gelukkig wees.

”Die liedjie het daarom ’n voelgoed-klank en ’n positiewe boodskap. Ek hoop dat dit mense sal inspireer om aan hulle geloof vas te hou.”

Len se strelende storievertellerstem skakel pragtig by die agtergrondmusiek in, maar verleen tog die nodige erns wat jou dwing om aandagtig na die lirieke te luister. Die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers se harte weer opnuut sal steel.

Oog van die Storm word in 2017 vrygestel. Alhoewel hy nie op hierdie stadium te veel wil verklap nie, sê hy: “Die titelsnit het ek saam met Mynhardt Smit geskryf. Dit is ’n goeie beskrywing van die seisoen waarin ek myself op die oomblik bevind.

Die eerste album, Doodgewone Avontuur, was vir my so half ’n geloofsprong in ’n onbekende wêreld en nou is ek in die middel van daai ‘storm’.

”Ek wil met die album iets sê van God, wat die vrede en kalmte vir jou kan wees in die ‘oog’ van die storm. Wanneer als om jou lyk of dit ’n warrelwind is, kan jy veilig en kalm wees in God se hand.”

Oor die afgelope paar jaar het Len nie net die verhoog met groot name soos Matthew Mole, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Dans Dans Lisa, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman, Dan Patlansky en Kaleidoskoop gedeel nie, maar homself ook gevestig as liedjieskrywer.

Hy gaan binnekort ook saam met Ray Dylan toer en het nog baie opwindende planne vir die toekoms.

*Uitgereik deur Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version