EntertainmentLifestyle

Noem My Skollie breek rekord

Die fliek, Noem My Skollie, het geskiedenis gemaak toe dit die afgelope week by Pollsmoor-gevangenis vertoon is.

Die fliek, Noem My Skollie, het geskiedenis gemaak toe dit die afgelope week by Pollsmoor-gevangenis vertoon is.

Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is, voordat dit landswyd op die grootskerm vrygestel word.

Die fliek is op Dinsdag, 16 Augustus, vir sowat 150 mense gewys, wat bestaan het uit tronkbewaarders, ’n groep van sowat 20 gevangenis van die Kuns- en Kultuurafdeling, ’n paar genooide gaste van NICRO (Nasionale Misdaadvoorkomingsorganisasie), en Kunstekaap, wat saam met hul Noorse vennote aan ’n teater-projek werk, wat gevangenes en diegene wat op parool vrygelaat is insluit, genaamd Help I am Free.

Daar is nog ’n sessie op 17 Augustus gehou, sonder die teenwoordigheid van die media en publiek, sodat dit meer van die tronkbewoners kon bereik. Sowat 130 manlike en vroulike gevangenes het die vertoning bygewoon. Die volgende dag is die fliek aan nog 130 tronkbewaarders vertoon.

Die atmosfeer was van die begin van die vertoning af gelaai en die gehoor was letterlik, vir die hele fliek lank, vasgenael en op die punte van hulle stoele. Teen die einde van die film was daar nie ’n droë oog in die vertoonlokaal nie.

John Fredericks die skrywer, Daryne Joshua die regisseur, en David Max Brown die vervaardiger, het tydens die geleentheid die gehoor se vrae beantwoord. Gevangenes het komentaar gelewer oor die egtheid van die fliek en gesê dat dit hulle geïnspireer en hoop gegee het vir hulle eie drome en doelwitte.

David Manuel, een van die hoofkarakters in die fliek, wat op parool was tydens die verfilming, was ook tussen die gehoor tydens die eerste vertoning by die gevangenis. Hy was geklee in die geel uitrusting van ’n verhoorafwagtende gevangene.

Hy is ’n paar maande gelede deur die polisie vasgetrek vir ’n oortreding, maar het ontken dat hy enigiets daarmee te doen gehad het. Gelukkig het sy saak vroeër in die week voorgekom en is die aanklagte teen hom teruggetrek. Wanneer hy dus die fliek weer sien, sal hy ’n vry man en volwaardige akteur, met ’n hoofrol in ’n nuwe plaaslike film, wees.

Die vertoning is moontlik gemaak met behulp van finansiële bystand deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en is ondersteun deur Ster-Kinekor, NICRO en die vertoningsmaatskappy, AV-Direct, wat elkeen van die drie dae laat voel het soos ’n regte teater-uitstappie. Die projekbestuurder, wat met NICRO en Pollsmoor geskakel en alles moontlik gemaak het, is Wisaal Abrahams.

Die film, wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis, is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.

Noem My Skollie dra die temas van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor. Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ‘n prys daaraan gekoppel.

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions), in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button