ADAM stel nuwe album vry

Suksesvolle sanggroep, ADAM, het onlangs hul nuwe album vrygestel.

SUKSESVOLLE sanggroep, ADAM, het onlangs hul nuwe album vrygestel.

Na drie suksesvolle albums en ’n kortspeler saam met Daniel Baron, is die popgroep ADAM (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) se splinternuwe album, ‘Hoogtevrees’, pas uitgereik. Die titelsnit van die album is reeds ’n paar weke gelede uitgereik en pryk op talle radiostasies landswyd se trefferparades en die musiekvideo vir die liedjie is op Woensdag, 10 Augustus, bekendgestel.

Meeste mense sal kan identifiseer met die liedjie ‘Hoogtevrees’, vertel Hugo wat dit saam met sy sangmaat Reynardt geskryf het. “Dit gaan oor ’n romantiese verhouding wat by ’n kruispad kom en jy dan wonder: wat nou,” het hy gesê. Dikwels sal ’n mens dan die verhouding in twyfel trek en wonder of dit gaan werk of nie. Hugo verduidelik dit is dan dat jy soms maar net jou oë moet toeknyp en ’n geloofsprong maak. “Jy moet van die verlede vergeet en op ’n skoon bladsy begin,” is sy advies.

Hy beskryf ‘Hoogtevrees’ as ’n “polsende popliedjie met ’n vinnige tempo waarop jy lekker sal kan dans”.

Oor die uitreiking van die volledige album is die manne net so opgewonde. Hugo vertel dat hulle twee jaar lank aan hom gewerk het, en daarom is dit beslis die album met die sterkste liedjies op. “Dit is in ’n tipiese ADAM-styl waaraan ons ondersteuners gewoond is. Ons het daardie fondament behou, maar tog ook ’n paar nuwe klanke ingebring,” het hy verklap.

ADAM is sekerlik een van die produktiefste groepe in Suid-Afrika vandag. Na hul eerste album, ‘Adam’, in 2011 verskyn het, het hulle ‘Vir jou gemaak’ (2012) en daarna ‘Goud’ (2014) uitgereik. Al drie hierdie albums het goue status bereik.

In 2014 het ADAM se liedjie ‘Sal oorlog vir jou maak’ in die plaaslike lokettreffer ‘Pad na jou hart’, ’n oornag-sukses vir hulle geword. Dit boer nie net op die trefferparades nie, maar het ook ’n Huisgenoot Liedjie van die Jaar-nominasie en ’n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die Jaar ontvang.

Ander Ghoema musiektoekennings op ADAM se kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015).

Verder het die supersterre vir drie jaar agtereenvolgens (2012 – 2014) by die Huisgenoot Skouspel in die Sun City Superbowl opgetree. ADAM skuur ook skouers met internasionale kunstenaars en het vir die Ierse groep, Westlife, in Namibië (2011) en vir die Australiese rockgroep, Air Supply, tydens hul Suid-Afrikaanse toer (2014) oopgemaak.

*Mediavrystelling verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Exit mobile version