EntertainmentLifestyle

Nuwe fliek gaan hartsnare roer

As deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama, Vir die Voëls, vervaardig.

AS deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar het die tydskrif, in samewerking met kykNET Films, die romantiese drama, ‘Vir Die Voëls’, vervaardig.

Kyk die lusmaker lokprent wat pas bekendgestel is hier:

Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, vertel hoe dié reis begin het: “Toe ons twee jaar gelede begin dink aan maniere om Huisgenoot se 100ste verjaarsdag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ’n romantiese fliek te maak. Dit was ’n logiese keuse om kykNET Films, die kenners van Afrikaanse rolprente, te betrek. Daarna is voorgestel ons hou ’n wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur. Die wenverhaal sou as inspirasie vir die draaiboek dien. Irma de Klerk van Newcastle se vertelling van haar en haar man, Sampie, se hobbelrige liefdespad tot by die kansel het gewen.

Hoewel die basiese intrige op hul verhaal gegrond is, is daar ook gebeure en karakters wat nuut geskep is om by te dra tot die opwinding.

‘Vir die Voëls’ vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore was haar kop op ’n blok dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag.

‘Vir die Voëls’ speel in die laat 1970’s af en volgens Henriëtte gaan dit “die nostalgiese hartsnare roer.” “Dis ’n fliek oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg; ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat eksterne omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk. Dit alles is temas waarby baie mense aanklank sal vind,” het sy gesê.

Quentin Krog, regisseur van die rolprent, het gesê: “Ek het saam met ’n fenomenale span gewerk en die hele verfilming geniet. Die lekkerste tonele om die regie van te behartig, was die oomblikke tussen Irma en Sampie; dit het deurentyd vir drama, romanse en komedie gesorg.

“Ek is opgewonde oor die gehoor wat na dié film gaan kyk. Ek is ook opgewonde oor die idee om hulle terug te neem na ’n ander era; om hulle te laat lag, huil en verlief te maak. Om hulle te vermaak.”

‘Vir die Voëls’ is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig en die rolverdeling sluit in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie. Die rolprent word op 25 November uitgereik en word deur Ster Kinekor Entertainment versprei.

*Uitgereik deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

 

Related Articles

Back to top button