Groot fees wag by Klipkoppiefees

Kaartjies verkoop soos soetkoek - maak seker jy kry joune betyds.

MEYERPLAAS – Sleep jou dagboek nader en maak seker dat Vrydag 30 en Saterdag 31 Mei afgemerk is as die belangrikste datums op vanjaar se sosiale kalender, want dit is wanneer die Meyerplaas in Alberton gaan dreun met die Klipkoppiefees 2014.

Soos gewoonlik gebeur alles op die Meyer plaas. Aanwysings daarheen is heel eenvoudig. Jy sal dit vind aan die einde van Forestraat Alberton, net verby die Reading gholfbaan. Volg net die pad aanwysings.

Verlede jaar het die Klipkoppiefees 14 000 besoekers gehad. As mens na vanjaar se vooraf kaartjieverkope, belangstelling en navrae kyk, gaan daar in 2014 ‘n toestroming van besoekers wees.

Vanjaar is die parkering byna verdubbel. Besoekers word versoek om so vroeg moontlik te kom aangesien daar slegs een toegangsroete tot die plaas is met die gevolg dat die verkeersvloei dalk kan lol.

Die sterbelaaide tentprogram met kunstenaars soos Snotkop (Vrydagaand), Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld (Saterdagaand) beloof om heelwat aftrek te kry. Hoewel die hooftent sitplek bied vir ongeveer 2 000 mense, word besoekers aangeraai om hul plekke vroegtydig in te neem.

Ander kunstenaars sluit in Chrizaan, Zandre, Jaycee Crous, Albert de Wet en Riaan Grobler, wat ook die seremoniemeester vir die naweek is. Die Cantare kinderkoor gaan ook op beide dae optree.

Saterdagoggend 31Mei beloof om ook ‘n trekpleister te wees wanneer van die akteurs van die Binneland sepie mekaar pak in ‘n braaikompetisie geborg deur Jimmy’s Sauces.

Vir diegene wat eerder die vars lug en plaas wil beleef, is daar vele ander aktiwiteite wat in die buitelug plaasvind.

Verskeie 4×4 aktiwiteite wat ‘n skattejag, aangebied deur Francois Rossouw van die RSG, 4×4 klub en ‘n CRD hindernisbaan insluit, is enkele hiervan. Die monsters van “Rock and Crawling” gaan nie net vir jou wys hoe om in grootmoddergate te klim nie, maar ook hoe om weer daar uit te kom.

Die CMR se pretloop vind plaas om 07:30 op die Saterdagoggend, gevolg deur die Leeuwenhof skool se bergfietswedren. Die eerste kategorie hiervan spring weg om 08:00.

Daar is ook baie avontuursaktiwiteite vir die kinders, soos Bungy-rekspring, groot glybane, muurklim en talle ander.

Vir die heel kleintjies is daar ook die ou gunstelinge soos gesigverf, beeldjies verf, speletjies en vele meer.

Die vlooimark met sy meer as 80 stalletjies bied iets van alles. Kunswerke, naaldwerk, speelgoed en nog vele meer word hier te koop aan gebied.

Daar is ook verskeie buitelug uitstallers wat hulle jongste kampeertoerusting, verskillende soorte braais, voertuigbybehore en hope meer kom wys. Verskeie motorhandelaars gaan ook spog met hul nuuste vuurwaens.

‘n Groot verskeidenheid kosstalletjies beloof om iets te bied vir elkeen se smaak. Hoe klink skaapstertjies tussen twee Calvinia ysterklippe gebraai? Die Klipkraal is waar die dors geles word.

Kaartjies kos R60 per persoon vir Vrydag en R100 vir Saterdag. Dit sluit in toegang tot al die kunstenaars wat die dag optree.

Die naweekkaartjies kos slegs R120 per persoon. As jy in ag neem dat die naweekkaartjie jou toegang bied tot o.a. al die kunstenaars, is dit ‘n winskopie.

Om lang rye by die hek te vermy kan jy jou naweekkaartjies vooraf koop. Dit is beskikbaar by Hoërskool Marais Viljoen, die NG Kerk Alberton-Wes en by Computicket. Die volledige Klipkoppiefeesprogram is beskikbaar op die webtuiste. Vir meer inligting skakel gerus 011 869 0001 tussen 09:00 en 13:00 of besoek ons by www.klipkoppiefees.co.za

Related Articles

Back to top button