Local sportSport

Leeus skud Bulle se bootjie

Leeus vergroot gaping op Afrika Konferensie met oorwinning teen die Bulle.

DIE Emirates Leeus het alle verwagtinge oorskry in die 2016 Vodacom Super Rugby reeks, en beklee tans die top posisie in die Afrika Konferensie na Saterdag 28 Mei se oorwinning oor die Vodacom Blou Bulle.

Die Bulle het ’n loesing van 56-20 op die lyf geloop nadat hul nabye bure, die Leeus, hul in alle fasette van die spel ore aangesit het. Dit is die eerste keer dat die Leeus in ’n Super Rugby reeks die Bulle op Loftus Versfeld kon klop.

Die Leeus het die Bulle bloedneus geslaan en sewe drieë ingeryg om sodoende ’n bonus punt op die koop toe te verdien.

Dit plaas die Johannesburgse span, wat op 42 punte staan, sewe punte voor in die gesamentlike Afrika Konferensie.

DHL Stormers is tans in die tweede plek met 36 punte.

Die Leeus se losskakel, Marnitz Boshoff, maak sy eerste verskying in Super Rugby vanjaar, en het 21 punte met sy skopskoen aangeteken.

Die Bulle het deurgaans in die wedstryd gesukkel om by die vinnige pas van die Leeus aan te pas, maar het teruggeveg om vir drie drieë oor te gaan.

Die Leeus se senter, Rohan Janse van Rensburg, het met sy twee drieë die oog gevang en kan gerus in die toekoms dopgehou word.

Puntemakers:

Vodacom Bulle:

Drieë: Jesse Kriel, Adriaan Strauss en Deon Stegmann.

Doelskop: Tian Schoeman.

Strafskop: Francois Brummer.

Emirates Leeus:

Drieë: Rohan Janse van Rensburg (2), Lionel Mapoe, Julian Redelinghuys, Jaco Kriel, Warren Whiteley en Faf de Klerk.

Doelskoppe: Marnitz Boshoff (6).

Strafskoppe: Boshoff (3).

Die ander Suid-Afrikaanse spanne wat op die wenpad in die 14de rondte van die kompetisie was, is die DHL Stormers, wat Toyota Cheetahs met 31-24 geklop het. Die Southern Kings wen 29-22 teen die Jaguars.

Die ander uitslae is:

Vrydag 27 Mei:

Hurricanes 27, Highlanders 20; en

Waratahs 45, Chiefs 25.

Saterdag 28 Mei:

Blues 21, Crusaders 26; en

Brumbies 66, Sunwolves 5.

Sondag 29 Mei:

Rebels 27, Force 22.

Related Articles

Back to top button