Local sportSport

Emirates Leeus vernou gaping

Rondte nege van die Vodacom Super Rugby reeks afgehandel.

DIE EMIRATES Leeus het in rondte nege van die Vodacom Super Rugby reeks sy gaping in die Afrika Konferensie aansienlik vernou deur die Southern Kings die loef af te steek.

Die span van Johannesburg het hul wedstryd gemaklik met 45-10 Saterdag 23 April in Port Elizabeth gewen. Slegs een punt skei nou die twee voorste spanne in die Afrika Konferensie, DHL Stormers, wat op 28 punte staan en die Emirates Leeus met 27.

Die Leeus het die Southern Kings op sy tuisveld ore aangesit met sewe drieë teenoor die Kings se twee. Hiermee het die Leeus hul sesde uit agt wedstryde in die reeks gewen. Springbok losskakel, Elton Jantjies het vyf van die drieë verdoel.

Punte aangeteken:

Southern Kings – Drieë: Luzuko Vulindlu en Chris Cloete.

Emirates Lions – Drieë: Warren Whiteley, Courtnall Skosan, Armand van der Merwe (2), Ruan Combrinck (2) en Rohan Janse van Rensburg. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

Die ander Suid-Afrikaanse spanne het gemengde welslae behaal. In Kaapstad wen die DHL Stormers hul wedstryd teen die Reds met 40-22 op Saterdag 23 April.

Die Reds het die telbord vroeg aan die gang gekry met ’n strafskop van Jake McIntyre waarna die Stormers geantwoord het met ’n drie deur vleuel Kobus van Wyk. Daarna het die twee spanne wipplank gery tot die eindfluitjie geblaas het.

Punte aangeteken:

Stormers – Drieë: Kobus van Wyk, Leolin Zas, Nic Groom en Vincent Koch. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (3) en Brandon Thomson. Strafskoppe: Du Plessis en Thomson (3).

Reds – Drieë: Liam Gill, Karmichael Hunt en Eto Nabuli. Doelskoppe: Jake McIntyre (2). Strafskop: McIntyre.

Cell C Sharks wen naelskraap met 15-14 teen die Highlanders op Vrydag 22 April in Dunedin. Die Highlanders moes met 14 spelers die span van Durban aanvat nadat Jason Emery, Willie le Roux vroeg in die wedstryd in die lug geduik het en ’n rooi kaart ontvang het.

Die Cell C Sharks het hul eerste oorwinning in vier wedstryde behaal.

Punte aangeteken:

Cell C Sharks – Strafskoppe: Garth April (5).

Highlanders – Drie: Matt Faddes; Strafskoppe: Lima Sopoaga (3).

Die Toyota Cheetahs verloor hul wedstryd teen die Rebels 14-36 op hul oorsese toer. Die wedstryd het Vrydag 22 April in Melbourne plaasgevind.

Die Rebels het 26 van hul punte in die tweede helfte aangeteken en sodoende ’n bonus punt behaal.

Punte aangeteken:

Rebels – Drieë: Reece Hodge (2), Lopeti Timani, Jonah Placid en Tamati Ellison. Doelskoppe: Jack Debreczeni (4). Strafskop: Debreczeni.

Toyota Cheetahs – Drieë: Torsten van Jaarsveld en Clayton Blommetjies; Doelskoppe: Niel Marais (2).

Ander uitslae:

Sunwolves 36 Jaguares 28

Hurricanes 27 Chiefs 28

Brumbies 14 Crusaders 40

*Uitslae verskaf deur Saru

Related Articles

Back to top button