Local sportSport

Driekuns vir Mahoney en Baragwanath met vierwiel wen

Driekuns vir Mahoney in die Diamond Route 400.

DIE veelvuldige voormalige kampioen, Louwrens Mahoney (Brother KTM), het op 8 Maart ‘n driekuns behaal toe hy die motorfietsafdeling van die Diamond Route 400-veldren, die openingsronde van die 2014 Nasionale Veldrenkampioenskap wat buite Wolmaransstad in die Noordwes-Provinsie aangebied is, vir die derde keer gewen het. Die voormalige vierwielkampioen, Brian Baragwanath (Team RHIDE SA-Yamaha), het die vierwielmotorfietsafdeling ná ‘n strawwe 360 kilometer-ren gewen.

Mahoney, wat dié ren in 2011 en 2012 gewen het, maar die grootste gedeelte van die 2013-seisoen uitgesit het omdat hy sy enkel gebreek het, was in ‘n taai stryd met sy spanmaat, Ross Branch, asook met Timothy Young (Kargo Racing-Yamaha), wat die renvoorloper tydens die eerste helfte was, gewikkel. Branch van Botswana, ‘n motocross spesialis, het aan sy eerste nasionale veldrenseisoen in Suid-Afrika deelgeneem en die vinnigste tyd tydens die Graderingsren vroeër vanjaar opgestel. Hy het versigtig gejaag om tweede agter Mahoney te eindig. Young het teen die einde van die vierde rondte in ‘n sloot beland (ryers moes ses sirkelroetes voltooi) wat sy voorwiel beskadig en sy handvatsels gebuig het. Hy het tyd en posisies verloor en moes uiteindelik met die sesde plek tevrede wees.

Net drie minute het Branch en Young van mekaar geskei, met slegs enkele sekondes die verskil tussen die ryers tussenin. Die verdedigende OR1-kampioen, Kenny Gilbert (Proudly Bidvest Yamaha), het remprobleme ondervind en ‘n frustrerende eerste helfte oorleef, maar het teruggeveg om die algehele en OR1-podiums af te rond – net 14 sekondes agter Branch en slegs vyf sekondes voor Dillon Inggs (Kawasaki), wat vir die eerste keer in OR1 deelgeneem het. Inggs was op sy beurt weer net 16 sekondes voor Ruan Roberts (Yamaha), wat 2013 tweede algeheel geëindig het.

Wat die vierwielers betref, het Baragwanath vroeg reeds die voortou geneem, alhoewel hy in ‘n renlange stryd met Jurie ‘Botter’ Meyer (Yamaha Support), wat twee pap bande tydens die ren opgedoen het, gewikkel was. Meyer het net meer as ‘n minuut ná Baragwanath klaargemaak met die tiener van Tzaneen, Jaco Moller (Portable Shade / Extreme ATV Tzaneen-Yamaha), wat die algehele en Q1-podiums afgerond het. David Hollis (Yamaha), wat in 2012 tydens dié ren geval het en nie laas jaar deelgeneem het nie, het ‘n welkome terugkeer gemaak deur vierde algeheel en in Q1 te eindig met Jaco Venter (Honda) wat die top vyf algeheel en in Q1 afgerond het. Hannes Saaijman (Team RHIDE SA-Yamaha) het Q2 gewen en was sesde algeheel met sy Yamaha Raptor, wat hy vir die 2015 Dakar-veldtydren toets.

Net 14 ryers in Q1, Q2 en die Seniorklas kon die volledige renafstand voltooi. Bertie Morton (Suzuki) was elfde; Paul dos Santos (Factory Racing-Suzuki) het derde in die Seniorklas en twaalfde algeheel geëindig; Ted Barbier (Team RHIDE SA -Yamaha) was 13de – vierde in die Seniorklas – met Peter Walter (PS Diamond Trailers -Yamaha) wat die top vyf van die Seniorklas afgerond en 14de geëindig het.

In die Seniormotorfietsklas het Juan ‘Bollie’ van Rooyen (Brother KTM) sy eerste sege aangeteken en elfde algeheel klaargemaak. Die voormalige Seniorklaskampioen, Guy Henley (KTM), was tweede in dié klas met Kobus Jonck (Bert Smith All Stars Racing Powered by RAD KTM) derde nadat hy tyd verloor het toe hy geval en sy KTM se verkoeler beskadig het. Sy spanmaat en verdedigende kampioen, Pieter Holl, was sewende in die klas met Ian Venter (RAD MOTO KTM) vierde; Robert Streak (Yamaha) vyfde en nóg ‘n voormalige kampioen, Wayne Farmer (Gas Gas) sesde.

Deelnemers in die Meester- en Vroue-klasse moet nou ook 75 per sent van die renafstand voltooi (dit was ongeveer 300 kilometer tydens die Diamond Route 400-veldren). Garth Prost (Cargo-Tac Husqvarna Factory Racing) het die Meesterklas in die motorfietsafdeling gewen, sy spanmaat in OR2, Altus de Wet, het enjinprobleme ondervind en kon nie die ren voltooi nie en is deur Adrian Storm (Automation Racing-KTM) gevolg met Jan Berning (RAD MOTO KTM) derde en Leon Gerber (*Bert Smith Racing KTM) vierde.

Dit blyk of meer ryers ouer as 46 jaar met vier wiele in die Meesterklas deelneem as met motorfietse. Hier het George Twigge (Yamaha) sy aanspraak op die titel met ‘n sege oor die verdedigende kampioen, Jurie Meyer Snr (Yamaha Support), afgeskop. Hulle is deur die twee Dos Santos-broers, Tony (hy was derde) en Roxy (vierde) gevolg – beide neem met Suzuki’s in die Factory Racing-span deel. Peter Schenk (Honda) het die top vyf afgerond.

Die Gekombineerde Nasionale Damesklaskampioenskap vir vroulike deelnemers in beide die motorfiets- en vierwielafdelings, is deur Jaco Venter se sussie, Maryna (Honda), gewen wat ook die vierwielklas vir dames na haar eerste nasionale ren gewen het. Nanda Swiegers (Yamaha) het dié klas in die motorfietsafdeling gewen en was tweede in dié nuwe Gekombineerde Damesklaskampioenskap. Liezel Barnard (Barnard Vervoer-Can-Am) was derde (tweede in die vierwielafdeling) nadat sy met haar groot vierwieler geval het, terwyl Taye Perry (*Bert Smith Racing KTM) vierde geëindig het (sy was tweede in die motorfietsafdeling), nadat sy meganiese probleme ondervind het.

Daar het strawwe mededinging in die nuwe Hoërskoolklaskampioenskap in die motorfietsafdeling geheers, met Brendon Fourie (Kawasaki) wat met die eerste sege ná n harde valslag weggestap het. Cilliers Fourie (Honda) was ‘n kortkop agter in die tweede plek, terwyl Alastair Drennan (Roost KTM / EC Security) net ‘n paar sekondes verder agter in die derde posisie geëindig het. Hy was op sy beurt weer net ‘n paar sekondes voor Eduan Bester (NUTS Racing / Century Civils Yamaha). Brendan Swanevelder (KTM) het die top vyf afgerond – al 13 ryers wat die ren aangepak het, het dit voltooi.

Wilmarie Moller (Portable Shade / Extreme ATV Tzaneen-Honda) het dié klas in die vierwielafdeling gewen met Ramon Lopez (Sign Wonder Racing-Honda) tweede.

Karl Rost (Honda) het die Silwerklasuitdaging (vierwielers) gewen en is deur Moller se spanmaat, Marcell Coetzee (Yamaha), gevolg terwyl Craig Wishart (PS Diamond Trailers-Husqvarna) die oorwinnaar in die motorfietsafdeling was. Hy is deur Byron McNeil (Yamaha) gevolg met Paul Calitz (McGee Yamaha Lydenburg) wat die podium afgerond het.

Die tweede ronde van die 2014 Nasionale Veldrenkampioenskap vind op 12 April by Windsorton in die Noord-Kaap plaas en sal vir ‘n gelyke speelveld sorg aangesien dit die eerste keer sal wees dat ‘n nasionale veldren hier aangebied word.

Besoek www.dirtracing.co.za / Dirt Racing vir volledige renresultate en meer inligting.

Related Articles

Back to top button