BlogsOpinion

Struwwelpeter: ‘Slang-in-die-maag-sindroom’ is dodelik

Dié medisyne is so sterk dat dit definitief 'n slang sal doodmaak, maar daar is 'n kans dat jy ook kan sterf

JARE gelede was ek bestuurder van ‘n 24-uur per dag, sewe dae per week chemiese aanleg. Die blanke skofwerkers het groot probleme veroorsaak.

Hulle was onbetroubaar en kort-kort afwesig (babelaas?). Besluit toe om van die beste swart werkers tegniese kollege toe te stuur vir deeltydse verdere opleiding.

Die gedagte was dat hulle uiteindelik skofvoormanne sou word.

Hierdie was in die tyd van Groot Apartheid en wat ek beplan het was heeltemal onwettig. In elk geval, min mense het daarvan geweet en my spannetjie het goed gevaar. Daar was een uitstaande ou – kom ons noem hom Alfeus (nie sy werklike naam nie) – wat besonder goed presteer het.

En toe, plotseling, verloor Alfeus alle belangstelling. Ek het met hom gesels oor sy probleem, maar hy het vas geglo dat hy “getoor” is. Iemand wat hom kwaadgesind was het blykbaar ‘n Sangoma betaal om ‘n slang in sy maag te sit, en dié was besig om hom op te vreet.

Ek het hom na ons fabrieksdokter verwys, maar al wat lg kon vind, is dat sy probleem psigosomaties van aard was.

Daardie aand, heel toevallig, kom eet my mediese professor swaer by ons. Ek vertel hom van Alfeus.

“Snake in the belly syndrome,” sê hy. “Hy sal binne drie maande dood wees, tensy jy hom help.”

“Hoe help ek?”

Hy vertel my presies wat om te doen. Die volgende dag gesels ek met die fabrieksdokter en ons besluit om dit te probeer.

Ons roep vir Alfeus in en die dokter vertel vir hom dat die resultate van sy ondersoek wys dat hy wel ‘n slang in sy maag het. En nou moet hy kies: ons sal ‘n baie sterk medisyne uit Amerika kry.

Dié medisyne is so sterk dat dit definitief sy slang sal doodmaak, maar daar is ‘n kans dat hy ook kan sterf.

Alfeus trek sy skouers op. “Sir, I’m a dead man anyway. I have nothing to lose. Please go ahead.”

Stap een is om sy aandag te kry en hom goed skrik te maak. “It only works if you scare the crap out of him,” het swaer gesê.

Die dokter tap 50ml bloed uit sy arm. Nou, as ‘n mens nie bloed gewoond is nie, lyk 50ml vir jou na vreeslik baie.

Alfeus het groot-oog toegekyk toe die dokter die bloed in ‘n 250ml bottel waterstof peroksied spuit.

Daar was ‘n hewige reaksie. Die mengsel het gekook en geborrel en ‘n wors gestolde bloed het by die bek uitgekom.

Alfeus het so groot geskrik dat hy in ‘n bewende bondeltjie op die bed gespring het en daar sit en kreun het. Maar ja, sy slang is bewys.

Die volgende stap is toe om die “sterk medisyne” vir hom in te spuit. Dit was in werklikheid ‘n fris dosis histamien wat hom redelik sleg laat voel het – soos mens wel voel as jy ‘n verkoue in die kop het.

Sy oë het gejeuk en getraan, sy neus het geloop en hy het dit glad nie geniet nie.

En toe, ‘n halfuur later, kry hy die tweede inspuiting. Dit was gewone antihistamien en sy verkoue-simptome het onmiddellik verdwyn. Terselftertyd het hy baie lomerig geword (van die antihistamien, natuurlik).

Na ‘n rukkie is nog ‘n bloedmonster getrek,en in dieselfde waterstofperoksiedbottel as voorheen gespuit – behalwe dat die bottel hierdie keer net kraanwater bevat het.

Daar was natuurlik geen reaksie nie. Maar dit was oorgenoeg om Alfeus te oortuig dat sy slang nou deur die “sterk Amerikaanse medisyne” doodgemaak is. Die lomerigheid, het die dokter beduie, is bloot omdat sy liggaam moeg is omdat dit, saam met die medisyne, so hard teen die slang baklei en uiteindelik oorwin het.

Alfeus is baie verlig en gelukkig – en gemotiveerd – daar weg. Drie maande later het hy al sy eksamens geslaag en kon ek hom aanstel as ‘n skofvoorman. Hy het ‘n goeie werk gedoen en het die weg gebaan vir ander swart mense.

Ek is met verhoging verplaas na ‘n groter fabriek en Alfeus het spesiaal ingekom of vir my totsiens te kom sê. Hy het ook aan my ‘n brief oorhandig tot dien effekte dat, sedert ek sy lewe gered het, hy ‘n ereskuld teenoor my het om enigiets wat ek vra, te doen.

Maar daaraan hang ‘n ander storie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button