Local newsNewsSchools

Nuwe avontuur lê vir Elizé voor

Kantoortannie sê totsiens na 31 jaar.

Laerskool President Steyn het onlangs hulle geliefde kantoortannie, Elizé Brandt, gegroet nadat sy na 31 jaar aftree.

Elize kon egter weens Covid-19 nie haar afskeidspartytjie bywoon nie en sy was al ’n geruime tyd by die huis voor haar laaste dag van werk.

“My wonderlike kollegas het my darem deur middel van tegnologie op hoogte van alles gehou en die dag op kamera vasgevang sodat ek dit vir altyd kan hê,” het sy vertel.

Deel van die Steyntjie-familie

Elizé Brandt saam met haar man en vier dogters.

Sy het in 1990 by die skool begin werk en vir haar was die lekkerste gedeelte van haar werk om te tik.“’n Mens kan sê dat tikwerk my passie was,” het sy vertel.

Die grootste uitdaging vir haar was op die dae wat dit baie besig was en die adminwerk, telefone en ontvangs gelyk aandag geverg het.

“Dit het dol gegaan op sommige dae, maar ek het dit steeds geniet om behulpsaam te wees.”

Haar gunsteling Steyntjie-herinnering was om elke dag liefde en vriendskap van haar kollegas, personeel, ouers en kinders te ontvang.

“So mens kan sê dat dit elke dag was,” het sy laggend gesê.

Dankie Steyntjies

Elizé Brandt saam met haar man, Hennie.

Elizé het aan die REKORD vertel dat sy die eenheidsgevoel van die skool se familie die meeste gaan mis.

“Ek gaan die Steyntjie-familie wat ek gehad almal baie mis. Hulle is die beste werksfamilie waarvoor ek kon vra. Mag dit net voorspoedig gaan met elkeen van julle.

“Dankie vir 31 jaar se onbaatsugtige liefde,” het Elizé gesê.

Wat die toekoms inhou

Elizé Brandt saam met haar man, Hennie.

“Dit is hartseer om te gaan, maar dit is ook ’n opwindende tyd vir my, want dis die begin van ’n nuwe avontuur.
“Wat voorlê is om net die lewe dag-vir-dag te vat en dankbaar te wees vir alles. Jesus is in beheer van ons lewens,” het sy vertel.

Volgens haar is die beplanning om ’n goeie balans te hou tussen tuisbly en rondry.

“Ons sal graag die land wil gaan verken asook kuier by kinders, kleinkinders, familie en vriende wanneer Covid-19 dit weer toelaat.”

Dit en dat

Elizé Brandt is opgewonde oor die toekoms al groet sy skool met ‘n swaar hart.

Elizé woon al vir 33 jaar lank in Alberton.

Sy is al vir 48 jaar lank met haar man, Hennie, getroud en hulle is geseënd met vier wonderlike dogters, skoonseuns en nege kleinkinders.

In haar vrye tyd, wat nou baie gaan wees, geniet sy dit om te lees en om ’n goeie fliek te kyk.
Elizé is lief vir lapverf en naaldwerk.

Elizé Brandt groet skool na 31 jaar.
Steyntjies gaan tannie Elizé mis.
Hennie en Elizé Brandt is al vir 48 jaar lank getroud.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button