Local newsNews

‘n Jagklub wat meer bied

Geniet jy jag? Dan is hierdie beslis vir jou...

DIE Macnab Jagklub is gedurende Maart vanjaar deur ‘n groep jagters, wat meer uit hul lidmaatskap van ‘n jagorganisasie wil kry as wat gemiddeld die geval is, in Alberton gestig.

Hulle doelstellings stem natuurlik in breë trekke ooreen met die meeste ander jag- en skiet-organisasies, maar die klub het ook die volgende unieke doelstellings:

* Hulle belangrikste prioriteit is om meer tyd met ‘n vuurwapen in die hand te spandeer, dus op jag in die veld, of op ‘n skietbaan om hul skietvernuf te verbeter. Soos die naam Macnab aandui, word daar gepoog om op drie aktiwiteite te konsentreer, naamlik die jag van ‘n bok en/of ‘n voël en die vang van roofvis.

* Ledegeld word aangewend om sekere dienste te verseker wat tot voordeel van elke lid sal strek. Fondse word ook aangewend om die klub uit te bou.

* Die klub sal klein genoeg gehou word om ‘n familie-atmosfeer te vestig, maar terselfdertyd groot genoeg word om ‘n positiewe bydrae tot CHASA se direksie te kan maak.

* ‘n Positiewe gesindheid teenoor alle jagters by grondeienaars, nie-jagters of anti-jagorganisasies te help kweek: daarom word voornemende lede streng gekeur om te verseker dat hulle die etos van die klub sal aanvaar en daarby sal aanpas. Persone wat nie gereeld aan aktiwiteite wil deelneem nie of wat hulle aan swak gedrag skuldig maak, word dus nie toegelaat nie.

Om hierdie doelwitte te behaal, is daar besluit om by CHASA aansoek te doen om affiliasie. Macnab se aansoek is tydens ‘n raadsvergadering in Mei oorweeg en eenparig aanvaar. Die klub vertrou CHASA om al die wetlike vereistes namens die klub na te kom, om te skakel met ander jagorganisasies en om inspraak te lewer op watter vlak ook al dit nodig sou wees om te verseker dat die jagsport en wapenbesit beskerm word. ‘n Affiliasiefooi word jaarliks aan CHASA oorbetaal vir hierdie diens.

Macnab se affiliasie by CHASA skep die vryheid om die klub te bedryf soos hierbo uiteengesit, en stel hulle in staat om ons doelstellings te bereik.

Indien enige persoon meer inligting wil bekom of dit oorweeg om by die klub aan te sluit, kan ons gekontak word by macnabjagklub@gmail.com

Die bestuur van die klub bestaan uit die volgende lede; Voorsitter – Danie Rossouw, sekretaris/tesourier – Fritz Weilbach, jagkoordineerder – Gerhard Oberholzer, skietkoördineerder – Marius Haarhoff, kommunikasie – Marelize van Jaarsveld.

Related Articles

Back to top button