EntertainmentLifestyle

Ontmoet vir Lafras Verwey

Hierdie tragi-komedie is gebaseer op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek.

CHRIS Barnard se Die Rebellie van Lafras Verwey is amptelik op Dinsdag, Januarie 24, vrygestel.

Die bekende radiodrama en verhoogstuk begin op 7 April in fliekteaters landwyd draai.

Kyk die lokprent hier: 

https://youtu.be/mlU_0XZs-MY

Hierdie tragi-komedie is gebaseer op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek. Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Hy werk in die staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander. Wanneer hy Petra (Chantelle Phillipus), ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg, begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word. Komedie, drama en elemente van fantasie, word verweef in ’n aangrypende storie, van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom, van ’n beter wêreld vir almal, te verwesenlik.

Die Rebellie van Lafras Verwey word vervaardig deur geliefde aktrise en regisseur, Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr, onder leiding van opkomende filmmaker, Simon Barnard. Laasgenoemde maak ook sy debuut as regisseur van ’n vollengte speelfilm met dié boeiende verhaal.

Simon, seun van Katinka Heyns en Chris Barnard, het in die vermaakbedryf grootgeword. Sy eerste rol in ’n fliek, was as die jong Benjamin Komoetie in die treffer, Fiela se Kind. Buiten vir die regie en vervaardiging van ’n dokumentêr oor sy pa vir kykNET en musiekvideos vir Die Heuwels Fantasties, is hy ook die skepper van 60 programme, in samewerking met kykNET en Medihelp, oor geestesgesondheid (’n Lewe met… / Living with…) saam met psigiater Dr Franco Colin. Sy eerste professionele kennismaking met ’n drama was op die stel van Die Wonderwerker, met sy pa as skrywer en ma as regisseur, waar hy fotografie, redigering en regie van materiaal agter die skerms behartig het. Simon is tans mededirekteur van Sonneblom Ateljees, wat in 1975 deur Katinka gestig is.

Katinka Heyns is bekend in radio-, televisie-, film- en teaterkringe, as aktrise en regisseur en is al met verskeie toekennings bekroon, waaronder die internasionale Crystal-toekenning vir Vroue in Rolprente, tien MNet Vita-toekennings, die Rapport City Press Vrou van die Jaar-toekenning, die Ere-Kanseliersmedalje van die Tswane Universiteit van Tegnologie, ’n FAK-erepenning en ’n SAFTA-prys vir lewenslange bydrae tot die bedryf. Sy is ook die eerste vrou wat in die Nasionale Rolprent- en Televisiestigting se Hall of Fame opgeneem is en deur die Departement van Kuns en Kultuur as raadslid van die Nasionale Rolprent- en Videostigting aangestel is. As verhoog- en rolprentaktrise, het sy al saam met die room van Afrikaanse kunstenaars opgetree, met hoofrolle in verskeie flieks soos Pappalap, Jannie Totsiens, Eendag op ’n Reëndag en Babbelkous en Bruidegom saam met Tobie Cronjé. In 1987 maak sy haar debuut as rolprentregisseur en –vervaardiger, waarna ’n rits suksesvolle films soos Fiela se Kind, Die Storie van Klara Viljee en Paljas, volg. Laasgenoemde was ook die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat aanvaar is vir ’n Oscar-benoeming. Haar mees onlangse film, Die Wonderwerker, is ook met lof ontvang. Haar D Phil (ere-doktorsgraad – TUKS) en onlangse erepenning van die Akademie van Wetenskap- en Kuns, gee erkenning aan haar oorkoepelende bydrae tot die bedryf.

Die Rebellie van Lafras Verwey se amptelike premiere sal op 9 Maart 2017 by die Woordfees in die Kaap plaasvind. Bekendes soos, Neels van Jaarsveld, Chantell Phillipus, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius het ook rolle in dié fliek wat deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik word.

*Uitgereik deur Alishia van Deventer, Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button