BlogsOpinion

‘n Tyd om te wees!

Daar is ‘n tyd vir alles om te wees! Is jy ook een vaan daardie mense wat nie kan wag dat dinge met jou moet gebeur nie maar wat dinge “laat gebeur”?

Ek het tot die besef gekom dat dit soms nodig is vir ons om te wag; dat ons sal wag op God om ons te stuur op die pad wat ons moet loop. Dit beteken welliswaar nie dat ons moet leef met die houding dat ons moet terugsit en sit en wag dat daar dinge in ons lewens gebeur nie, nee, reik uit na mense en vra God om jou te help om sensitief vir Sy stem te wees.

Deur heeltemal passief te wees kan daar dalk gedagtetjies en seën wees wat ongemerk by jou verbygaan. Wees paraat, gereed en bereid om God en jou naaste te dien. Wees beskikbaaar vir God en so ook vir mekaar . Sodoende verseker jy dat jy op die regte tyd op die regte plek sal wees.

In die hoofstuk van Prediker in die Bybel, lees ons dat daar ‘n tyd is vir alle dinge soos byvoorbeeld was daar ‘n spesifieke tyd vir jou om gebore te word. Dit alleen sê vir jou dat daar ‘n doel vir jou is om daar te wees; daar is ‘n spesifieke rede vir jou bestaan! Jy bestaan nie sommer net nie; God het jou vir ‘n spesifieke doel geskape – het jy Hom al ooit gevra wat jou doel op aarde is?

 

Ek het netnou genoem dat ek nie iemand is wat kan wag dat dinge gebeur nie, maar dat ek dinge laat gebeur. In hierdie proses kyk ek God se eintlike bestemming vir my lewe mis! Ons dink dat ons ‘n kort pad vat maar intussen neem ons die pad wat vol slote is en ons langer neem om by die regte bestemming uit te kom.

Ek het nou die dag ‘n pragtige uitdrukking gehoor wat my uitkyk vir die lewe en baie dinge verander het: “Niks wat bedoel is om te wees, hoef geforseer te word nie”! Is dit nie iets om oor na te dink nie? In plaas van dat ek allerhande plannetjies maak om dinge te laat gebeur (gewoonlik na my wil), moet ek God toelaat om dinge te laat gebeur.

God weet wat Hy vir ons beplan (“Voorspoed en nie teëspoed nie”!); Hy wil hê dat ons moet gelukkig wees; maar ons maak so baie plannetjies, ons gaan deur storms in ons lewens as gevolg daarvan en dan wil ons God blameer. Ons het in die proses om ons eie paaidjies te kies en plannetjies te maak, die verkeerde paaie gekies.

Wag op God en Hy sal jou op die regte pad laat loop. Hy sal vir jou die regte deur oopmaak, moenie ‘n deur oop forseer nie!   Wandel met Hom, wees sensitief vir Sy stem en Hy sal vir jou die regte deur op die regte tyd opmaak. Laat Sy Gees jou lei en jy sal Sy onuitspreeklike wonderlike seën ontvang wat jou lewe sal kenmerk met Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan! Laat hierdie Vrede van God uit jou straal en oor jou medemens spoel sodat hul God se liefde deur jou kan sien!

So vervul jy God se uiteindelike doel vir jou lewe, gekenmerk met elke gebeurtenis op ‘n bepaalde regte tyd!

 

—oooOooo—

Related Articles

Back to top button