BlogsOpinion

Spyt kom te laat!

Keer die grimmigheid af en bewys barmhartigheid aan mekaar.

Ons almal het al terug gekyk op die pad wat ons sover geloop het en was ook al spyt oor sekere optredes. “As ek maar geweet het, sou ek anders opgetree het”! Tog kan ek nie anders as om te wonder of ons, indien ons die geleentheid oor sou kon hê, ons maar presies dieselfde sou optree nie? Ons ken almal die spreekwoordelike gesegde van “Spyt kom te laat”. Is U een van daardie mense wat impulsief optree sonder om twee maal te dink of dinge sê sonder om te dink wat die implikasies van u woorde sal wees? Inderwaarheid doen of sê ons dikwels dinge op die ingewing van die oomblik; maar dit is belangrik dat ons, wat ons ookal doen of sê, eers die koste daarvan sal bereken. Hoe kry ons dit dan reg? Die gedeelte van Die Woord in Spreuke 3 is vir my so kosbaar. Daar wil ek nie ‘n enkele vers uitsonder nie want as dit die begeerte van ons harte is om ons lewens volgens hierdie verse te rig, sal ons nooit spyt wees oor enige impulsiewe optredes nie! Die hele hoofstuk in Spreuke 3 vertel ons hoe ons denke en handelswyse moet wees en sluit af met woorde: “Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande”(v15).

U kan God vertrou op Sy Woord! Vra hom om ‘n wag voor jou mond te plaas want die tong is ‘n ‘twee-snydende swaard’! Lees ook Spreuke 18:21 om te sien hoe sterk die mag van die tong is. Wees ook stadig om na ander mense ‘n vinger te wys en kwaad oor hulle te spreek. Miskien sou jy ook in daardie situasie dieselfde opgetree het. Is jy haastig om te oordeel?; of selfs vinnige afleidings te maak op ander se woorde? Neem voortaan negatiewe kritiek op as ‘n opbouende element; dit is die enigste manier hoe jy kan weet wat ander mense van jou dink. Probeer dan om op daardie kritiek te verbeter en liewer die teendeel te bewys deur te lewe op die wyse wat Spreuke 3 vir ons leer. Word jy egter kwaad, handel jy volgens die “dwase wat skande behaal” en dit veroorsaak weereens dat spyt te laat kom!

Keer die grimmigheid af en bewys barmhartigheid aan mekaar. As iemand ‘n probleem het, gaan bied jou hulp aan, al is dit dan net om vir daardie persoon te bid. Dien mekaar met liefde sodat jy nie sal terugkyk en sê: “As ek maar geweet het”, want spyt kom te laat!

ooOOOoo

 

Related Articles

Back to top button