BlogsOpinion

Behoefte aan aanvaarding

Hoe is jou optrede teenoor jou naaste? Hoe tree jy op in jou werk situasie? Dra jy God se liefde en omgee uit of is jy die “eie ek” wat net vir jouself omgee?

Ons almal het die behoefte aan aanvaarding; daarsonder kan nie een van ons lewe nie.  Selfs die persoon met die “eie ek” houding het aanvaarding nodig.

Ons ervaar soms ‘n negatiewe gesindheid van ‘n kollega sonder om te weet wat die probleem daarvoor kan wees.  Jy weet nie wat jy gesondig het nie en waarom die persoon so teenoor jou optree nie.  Kommunikasie is natuurlik die daadwerklike oplossing. Verstaan ander mense (en jouself) en leef God se resep vir jou lewe uit; dit is die enigste oplossing wat dan ook die deurbraak na  kommunikasie vergemaklik.

Ons is almal maar mense wat onseker is; wat wonder daaroor of iemand van jou hou of nie, want ons het almal daardie behoefte om deur ander aanvaar te word.  Iemand wat negatief teenoor jou optree, voel gewoonlik dat jy dalk nie van hom of haar hou nie., dus tree die persoon onseker teenoor jou op en kry jy die gevoel van ‘n negtiewe gesindheid.

In die geval van ‘n spesifieke insident wat kon plaasgevind het, is kommunikasie ook die enigste oplossing want menigte geskille ontstaan as gevolg van misverstande; ruim dus die misverstand uit die weg.

Jesus het in Sy woord aan ons gesê dat ons mekaar moet liefhê met God se liefde en dat ons mekaar se laste moet dra.  Kom ons daardie voorskrifte na of dink ons net aan ons eie ek of hoe ons self behaag kan word? Wys vir jou mede-kollega jy gee om met ‘Jesus se Liefde’; wees bedagsaam en daardie  stram en negatiewe houding van die ander persoon sal verdwyn!

Wie sal ‘n vriendelike glimlag wat opreg uitstraal kan weerstaan en/of ‘n paar vriendelike woorde soos “Jy lyk vandag pragtig” of “Meneer het vandag ‘n mooi das aan” kan weerstaan?; enige woorde, solank jy dit net opreg  bedoel.

God gee vir ons opdrag in Sy woord om mekaar met liefde te verdra. Lees Efesiërs 4.  “… wandel met nederigheid en sagmoedigheid …. terwyl jul mekaar in liefde verdra …”(v.2).  Hy wil dus hê dat ons nederig en sagmoedig sal wees en daarom mekaar in liefde sal verdra.

Tree dus met aanvaarding en liefde  teenoor jou naaste op en so sal jy vir almal met wie jy in aanraking kom, ‘n ligstraal en voorbeeld van God se liefde wees.

–ooOoo–

Related Articles

 
Back to top button